Die Bybel sê dat God op die vleuels van die wind ry en dat God die winde tot boodskappers maak (Ps 124:3-4).  Ons leer dus ook vir God in die wind ken.  Om die waarheid te sê, daar is ’n besondere intieme ontmoeting met God in die wind.  Dieselfde woord wat in die Bybel met wind vertaal word, beteken ook “asem”.  Dit is die “lewensasem” wat God in die mens se neus blaas wat van die mens ’n lewende wese maak (Gen 2:7).  Wind/asem is dus lewe.  Daarom is daar ’n nou band tussen wind en die Gees van God.  Op die dag van die uitstorting van die Heilige Gees  was daar die geluid van ’n “geweldige stormwind”(Hand 2:2).

Die Bybel assosieer dus wind/asem met God se Gees.

Dit is die mistieke tradisie wat vir ons leer om intiem met God te verkeer deur doelbewus op ons asem te konsentreer.  Hildegard van Bingen het oor haarself gedink as ’n veer op die asem van God.  Nadat Teilhard de Chardin gehoor het dat die wêreld nog steeds geskep word, en Christus sy vervulling daarin bereik, het de Chardin hierdie aangrypende getuienis nagelaat:

“The world is still being created, and it is Christ who is reaching His fulfilment in it. When I heard and understood that saying, I looked around and saw, as though in an ecstasy, that through all nature I was immersed in God.  God is everywhere … Every breath that passes through me, envelops me, or captivates me, emanates, without any doubt, from the heart of God; like a subtle and essential energy, it transmits the pulsations of God’s will.” [1]

My asemhaling is dus die aktiwiteit waarin ek God se lewende teenwoordigheid in my en die skepping beleef.  [LW: nie bedink nie, maar beleef!] Tog is ons meestal totaal onbewus daarvan, omdat ons gedagtes selde op ons asemhaling konsentreer en omdat ons nie vir God met ons asem assosieer nie.  Ons dink en verstaan onsself en die res van die skepping daarvoor te los van God.  Die waarheid is dat God so naby aan die skepping is soos die wind en so naby aan my soos my eie asem.

Toe God vir Moses by die brandende braambos roep om sy mond te wees, vra Moses: “Wat is U naam?” En dan antwoord God: “Ek is wie Ek is.” Hierdie woorde het uiteindelik die naam geword wat Israel gebruik het as hulle na God as die God van die verbond verwys, naamlik “Jahwe”.  In die Joodse uitlegtradisie is daar hierdie interessante verduideliking van hierdie naam van God.  Die naam “Jahwe” is gekoppel aan die aksie van asemhaling.  “Jah…” word gekoppel met inaseming en “…we” met uitaseming.  God wou dus hê dat elke Israeliet met elke asemtuig aan God moes dink.  Dit is asof God vir die Israeliete wou sê: “Elke keer as jy asemhaal, sê jy my Naam.”  Ons asemhaling gee uitdrukking aan ons absolute verbintenis en afhanklikheid van God.

Wind is nie net bewegende lug nie.  Asemhaling is nie net die in- en uitblaas van lug nie.  Dit is gemeenskap met God!

 

Voorstelle:

Persoonlik: Net daar waar jy nou sit – raak bewus van jou asemhaling.

  • Gee jou oor aan die vloei van die ritme van die in en uit van jou asem.  Kom tot rus in jou asemhaling.  Moenie stop voor jy nie die ervaring   het van hoe jou liggaam ontspan nie.
  • Raak nou rustig bewus daarvan dat dit God se lewegewende Gees is wat jy inasem.
  • Verwelkom die Heilige Gees.
  • Sê dankie.

Dink na:

  • Watter effek, dink jy, het besoedelde lug op die ervaring van God se teenwoordigheid in mense se asemhaling?
  • Wat kan ek doen om seker te maak dat my kleinkinders nog skoon lug het om in te asem?

Gemeente:

Hou ‘n gemeentekonferensie oor lug en lugbesoedeling.  Gebruik kundiges uit julle gemeente en gemeenskap. Fokus op die vraag: “Wat kan ek as lidmaat doen om God se lug skoon te hou?”

[1]  The Hymn of the Universe, New York: Harper & Row, 1965.

 

David Botha namens die Projekspan Ekologie
dpbotha2@gmail.com