Kersfees is nie “all about me” nie.  Dit is ook nie “all about humanity” nie.  Kersfees het alles met die kosmos te doen.  So sê Joh. 3:16: “Want so lief het God die wêreld (kosmos) gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het …”

Kom ons klim hierdie jaar uit die sentrum van ons Kersfeesvieringe uit en gee geskenke vir die res van God se skepping.  Ons mag dalk op dié manier ontdek dat dit enorm bydrae tot ons eie vreugde gee.

Hier is ’n paar praktiese riglyne vir kreatiewe planne vir kersgeskenke hierdie jaar. Ons dink konsentries in uitkringende sirkels:

1. In en om die huis

  • Troetel jul troeteldier(e) hierdie Kersdag spesiaal.  En vind vreugde in hulle vreugde.
  • Plant ’n inheemse boom of struik in jul tuin.  Berei die gat met groot liefde en goeie voorbereiding voor.  En verbind jou in vreugde aan die versorging van die struik/boom vir die jare wat voorlê.
  • Eet op Kersdag vegetaries.

 

2. Ons woonbuurt/dorp/stad

  • Is daar dalk ‘n rivier/vlei/strand naby julle waar julle rommel kan gaan optel?
  • Bereken julle koolstofvoetspoor vir die afgelope jaar en plant genoeg bome om daarvoor te vergoed. Hier is twee webtuistes wat julle kan gebruik vir die berekening.  Die tweede een is Suid-Afrikaans en verbind spesifiek jul voetspoor met die plant van bome:  https://www.carbonfootprint.com/calculator.aspx;  en   http://www.trees.co.za/carbon-offset/carbon-calculator.html
  • Vind uit by julle plaaslike munisipaliteit waar julle die bome kan plant.  Maak seker dat die bome inheems is en dat hulle versorg word in die volgende twee jaar totdat hulle gevestig is.
  • Vind uit by julle plaaslike Dierebeskermingsverenging (DBV) waarmee julle kan help om die diere onder hulle sorg te help versorg gedurende hierdie kersseisoen.

3.Verder

  • Ry hierdie Kersfees doelbewus minder.
  • Daar is verskeie spesies diere en plante wat bedreig word.  Vind by Natuurbewaring uit hoe jy/julle gesin kan help om nuwe hoop te gee vir hulle wat uitsterwing in die gesig staar.

Bogenoemde is net lusmakers.  Hou ’n gesins- en/of ‘n gemeentekonferensie en maak saam kreatiewe planne vir ’n liefdevolle en groen Kersfees.

Die skepping is ’n wonderlike ontvanger van liefdevolle geskenke.  Sy reageer deur te floreer en so sê sy dankie.  Die beste manier om vir onsself te sorg, is deur vir ons omgewing te sorg.  Dit is hoe “vrede op aarde” prakties waar word.

Vrede vir julle en julle omgewing.

 

David Botha
(nms Projekspan Ekologie)
dpbotha2@gmail.com