As jy net één geleentheid het om mense van die Here te vertel, omdat hulle meestal net vir een dag in hul lewe met jou gaan kennis maak,  wonder jy dikwels wat nou van hierdie mense gaan word.

Maar die Here het vir Gert Tredoux van Biblia Hawesending Saldanhabaai op een dag twee keer bevestig dat hy moet voortgaan met sy evangelisasiewerk: “… al kan ek nie met hulle saamgaan nie, kan Hý wel,” sê Gert.

Die eerste bevestiging was toe hy onlangs weer ’n skip besoek het en na die eetsalon genooi is waar hy met ’n paar manne oor Jesus kon praat. Hy stap toe na ’n man wat so half eenkant gesit en eet het. Die man ken hom toe en vertel dat Gert in 2011 vir hom ‘n brief met teksverse gegee het ter bevestiging dat hy Jesus aanvaar het. Hy hou dit voor in sy werksboek sodat as hy dit soggens oopmaak, sy oog eerste op dié verse kan val. “Die Here werk waar ons nie kan nie, en is daar waar ons nie kan wees nie,” getuig Gert.

Die tweede bevestiging was toe hy direk daarna op ’n ander skip ’n man ontmoet wat hom onthou van 2014. Sy kaptein wou hom graag ontmoet en dit is gereël. Die kaptein vertel toe vir Gert van twee van sy bemanningslede wie se lewens radikaal verander het; hulle hou nou selfs Bybelstudie onder die bemanningslede!

Die kaptein, wat ook ’n christen is, vertel toe dat sy skeepsroete eintlik net tussen China en Australië loop, maar dat dié twee vir die hawesendingpersoneel in Australië gevra het of hulle weet van die Biblia-man van Saldanhabaai. Die kaptein wou toe baie graag ook dié man ontmoet, maar weet dis onmoontlik; nogtans het hy daaroor gebid.

Toe hulle vanaf China moes teruggaan na Australië ontvang hulle skielik die opdrag om na Saldanhabaai te gaan. En daarom is hy nou hier – om vir Gert te bemoedig en hom van die twee bemanningslede op sy skip te vertel. Die kaptein gee ook Bybelstudie en maak dissipels volgens die opdrag van Jesus.

Voordat Gert daar weg is, het hy en die kaptein eers vir mekaar gebid. “Die Here sal hulle nooit verlaat nie en niemand sal hulle uit die Here se hand ruk nie, behalwe hulself …,” sê Gert.

 

Kontak Gert Tredoux by  074 908 3982 vir meer inligting.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *