Ansie (nie haar regte naam nie) van Gouda woon net ’n paar kilometer van die Voëlvleidam af.  Sy vertel nou die dag van die onvermydelike groot groet wat sy gehad het.  Sy en haar man het ’n tuindiens op die dorp bedryf.  Die droogte het ’n einde hieraan gebring.  Dit was egter nog nie die groot groet nie.  Dit was die streng waterbeperkings wat die groot groet onvermydelik gemaak het.  Sy het besef dat sy nie langer haar geliefde tuin aan die gang sal kan hou nie.  Dit is toe dat die groot totsiens-sêery gekom het.  Sy het besluit om dié werklikheid in die oë te kyk en aktief afskeid te neem. 

Een vir een het sy haar plante besoek en tot siens gesê en verskoning gevra vir haar onvermoë om vir hulle water te gee.  Deel van die groetery was ook die moeilike keuse wat sy gehad het om tog ’n paar plante uit te kies wat sy met die gryswater aan die lewe gaan probeer hou.  Haar hart het gebreek.

Lees gerus ook Wynand Viviers, ’n boer net buite Beaufort-Wes, se swaarkry-verhaal in die Desember-uitgawe van The Green Times by Karoo farmers battle for survival amid punishing drought.

Hierdie groot groet vind op groot skaal in die Kaap Provinsie op die oomblik plaas.  Wat maak dat ’n mens soos Ansie van Gouda die groet aktief doen en tog nog altyd jou bes doen om aan die lewe te hou wat jy kan?

Miskien is dit die geloof in God.  Die God wat in Jesus van Nasaret sê: “Ek is die weg, die waarheid en die LEWE.”  Die God wat vir Jeremia by die spruitjie,Krit, aan die lewe gehou het en hom nie net die droogte met die groot groet laat beleef het nie, maar ook die groot reëns en herstel.

Voorstelle:

  • Dit is nooit te laat om ‘n watertenk op te sit nie.  Hoe groter die dak, hoe gouer word hy vol. En op 1 Januarie 2018 het ons 7.8 mm reën gekry! Dié water kan die verskil maak tussen lewe en dood vir ’n paar plante in die tuin.
  • Gebruik jou gryswater om die boom (bome) in jou tuin aan die lewe te hou.  Hulle sal jou aan die lewe herinner en jou geloof versterk en help met die herstel van jou tuin as die reëns weer opdaag.

Sterkte vir elkeen van julle wat besig is met die groot groetery.

 

David Botha

Nms Projekspan Ekologie

Getuienisaksie NG Kerkfamilie Kaapstreek

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *