Magdaleen Goosen en dr Monique nadat sy ’n eredoktorsgraad van Universiteit Stellenbosch ontvang het in Maart vanjaar.

Die Universiteit Stellenbosch het 4, 200 internasionale studente uit meer as 110 lande. Jy kan jou net indink hoe vreemd jy moet voel as jy byvoorbeeld uit Malawi of Mosambiek hier in die Boland moet kom studeer, maar gelukkig is Jurie en Magdaleen Goosen van Helderberg Uitreik en medewerkers verantwoordelik vir die internasionale studentebediening op die kampus.

Jurie haal ’n skrywer aan wat eenmaal gesê het: “The University campus is the modern day crossroads of the world. Like the first day of Pentecost it brings people of all nationalities and cultures together in the marketplace of modern thought.”

Baie van hierdie studente maak later ’n groot verskil in hul lande, byvoorbeeld Monique Nsanzabaganwa, ʼn merkwaardige vrou van Rwanda wat in 2000 na Universiteit Stellenbosch gekom het om haar meestersgraad in ekonomie te doen. (Haar man is ‘n sosiologiedosent in Rwanda.) Sy was Frans en Kiniyarwanda magtig, maar kon skaars Engels praat. Sy was ook swanger met hul eerste kind.

Sy het ingeskakel by Magdaleen se weeklikse ondersteuningsgroep vir internasionale vroue en getuig: “Joining the spouses group meetings contributed a lot to make me feel at home and cope with motherhood”. Magdaleen en Monique se vriendskap het gegroei en sy besoek hulle elke keer  wanneer sy na Stellenbosch kom.

In 2002 word sy die eerste student buite Suid-Afrika om haar meestersgraad in ekonomie met lof te slaag. Sy keer terug na Rwanda en word op 32-jarige ouderdom die minister van ekonomiese beplanning in Rwanda. Sy help plaas Rwanda onder die 50 mees sakevriendelike ekonomieë ter wêreld.

Monique het intussen ook ʼn doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en is nou die adjunkpresident van die Reserwebank van Rwanda. In Maart vanjaar is ʼn eredoktorsgraad aan haar toegeken deur die Universiteit Stellenbsch op grond van haar leiding wat armoede, inflasie en ongelykeid laat daal het in Rwanda. Die eregraad is ook toegeken vir haar voorspraak vir vroue as kernrolspelers in die Afrika-ekonomie.

Die Goosens is dankbaar vir die betrokkenheid van donateurs, voorbidders en Stellenbosch Moederkerk wat gratis lokale verskaf vir byeenkomste.

Kontak Jurie Goosen by goosens@isales.co.za vir meer inligting.