Die droogte vat ons woestyn toe om daar te leer lewe. Waterskaarste kan gevaarlik wees.  Vra maar vir Moses (Exodus 17).  Die grootste gevaar sit egter nie in die tekort aan water nie, maar in die mens se reaksie op die tekort.  Die dorstiges raak dreigend en verwytend en neem vir Moses (hul leierskap) kwalik vir die swaarkry wat hul nou in die gesig staar.  Agter dit alles lê ‘n emosie wat die bron van energie is vir hul optrede, nl vrees.  Moses ly ook aan hierdie emosie.  Benoud en bang vra hy: “Wat moet ek met hierdie volk aanvang?  Netnou gooi hulle my met klippe dood.”  Vrees is ‘n menslike en soms noodsaaklike emosie om uit ‘n gevaarlike situasie te kom.  Maar vrees is gewoonlik nie ‘n bron vir kreatiwiteit nie.  Vrees is meesal lewe-nemend eerder as lewe-gewend.

Die eerste tekens van vrees is reeds in die Kaapse Metropool sigbaar.  Water word reeds gesteel en opgepot.  Soos die situasie vererger, sal mense se vrees toeneem en ook uitspeel in ongeduld, dreigemente en openlike agressie.  Dit is natuurlik niks nuuts nie.  Menige oorlog is al geveg omdat mense ‘n gevoel van skaarste gehad het of omdat hulle bang was om iets te verloor wat vir hulle kosbaar was.  Vele voorspel ook dat die volgende wêreldoorlog oor water sal gaan.

Dit hoef natuurlik nie so te wees nie.  En die inwoners van die Kaapse Metropool hoef ook nie oor water te baklei en oor Dag-Zero oorlog te maak nie.

Alles hang af van hoe ons na die droogte kyk.  Soos alle droogtes sal hierdie droogte definitief iets van ons wegneem.  Ons is geneig om te dink dat dit ons lewe is wat op die spel is.  Ons lewens is egter nog lank nie op die spel nie.  Wat wel op die spel is, is ons gewoontes – veral die gewoontes wat met water te doen het.  In die Wes-Kaap het ons aan heerlike deurdringende winterreën gewoond geword.  Water was vir ons nooit ‘n skaarste nie.  Ons het ‘n lewenswyse ontwikkel wat water as ‘n oorvloedige vanselfsprekendheid aanvaar het.  Ongelukkig het hierdie oorvloedigheid (en die gemak van pype en krane wat dit tot in ons huise bring) daartoe gelei dat ons respek vir water verloor het en dat water waardeloos geword het.  Ons disrespek vir water het o.a. uitgespeel in die legio maniere waarop ons dit vermors het.  Dat water haar waarde vir ons verloor het, het o.a. uitgespeel in die feit dat ons water as lesser van dors vervang het met allerlei gegeurde variasies (o.a. “soft drinks”).

Die droogte gaan ons nie doodmaak nie.  Daar sal nog altyd water wees.  Net glad nie meer so baie nie.  Dalk ook nie meer in ons krane nie.  Onderlinge mededeelsaamheid en omgee van dwarsoor die land en krisisplanne sal egter sorg dat daar water is.  Wat die droogte wel doen, is dat dit ons woestyn toe vat.  Die woestyn stroop ons van dit wat onnodig, nadelig en oortollig is.  Die woestyn is ontwrigtend, maar terselfdertyd ook helend, vernuwend.  In die woestyn kan ‘n mens leer wat dit beteken om te lewe.

Baie jare gelede was daar ‘n man wat uit die baie waters van die Jordaan opgeklim het en toe woestyn toe geneem is deur die Gees van God.  Vir veertig dae het hy niks geëet nie en met baie min water klaar gekom (Markus 1: 9-15). Dit was ‘n tyd van veeleisende versoeking en ontbering, ja, maar ook ‘n tyd van absolute toewyding en verbintenis.  Dit was ‘n tyd waarin Hy geleer het dat die Vader sorg en om met oorgawe te sê: “Nie my wil nie, maar U wil, Vader.”  Die woestyn was vir Jesus nodig ter wille van die bevryding van die skepping.

 

Voorstel:

  1. Gemeentes: Gebruik die eerste Sondag in Lydenstyd (18 Februarie) om te fokus op hoe Jesus se woestynervaring ons help met die droogte (woestyn) wat ons beleef.
  2. Persoonlik: Neem jou vrees vir die droogte en Dag-Zero na God toe, net soos Moses met sy vrees gedoen het.  Dalk wys God vir jou ook dat daar in die woestyn verrassende bronne met oorgenoeg water is.

 

David Botha nms die Projekspan vir Ekologie: dpbotha2@gmail.com