Hoe berei ’n mens voor vir Dag Zero?  Ek dink aan drie moontlikhede:

  1. Ons kan dit ontken.  Maak asof dit nie sal gebeur nie en elkeen wat daadwerlik daarvoor voorberei, beskuldig van kleingelowigheid.  En aanhou water verbruik asof al die foto’s wat van ons leë damme geneem is, gedokter is om mense onnodig die skrik op die lyf te jaag. (Ou gevestigde bome in ons tuin wat vir die eerste keer van die droogte verskroei, sê ontkenning is dwaas!)
  2. Ons kan al die verantwoordelikheid vir die krisis op die owerhede en op God plaas.  Self hoef ons dan nie eintlik iets te doen nie.  God moet sorg vir reën en die owerhede moet planne maak en uitvoer om te sorg dat daar water is.  En as God en owerheid nie hulle kant bring nie, versprei ons ’n vloed van negatiewe woorde vir elkeen wie se oor naby is.  Of ons probeer om soveel water as moontlik te gryp by die uitdeelpunt, met ’n elkeen-vir-homself-houding.  Of ons pot soveel water op as wat ons kan. (Ons haarkapper vertel nou die dag van ’n boer uit die omgewing wat met ’n lang gesig in die salon se stoel neerval.  Dit was ’n bewolkte dag wat belowend lyk vir reën.  “Sal seker weer net vyf druppels wees”, brom hy.  Haar reaksie?  “Daai vyf druppels kan dalk ’n diertjie se lewe red!  En vir wie is jy nou eintlik kwaad?” Sy kla by ons: “Julle sal nie weet hoeveel negatiwiteit ek elke dag hier moet uithou nie”.)
  3. Of ons kan die werklikheid omarm en dit met ’n positiewe ingesteldheid toelaat om ons nou reeds te tref en te leer – soos Elma en Ruben van die webwerf “The Green Times” (http://thegreentimes.co.za/). In plaas daarvan om vir DagZero te wag, het hulle besluit om nou reeds DagZero te laat aanbreek.  Hulle het vir hulle 200 liter water in ’n houer getap en toe hul stopkraan gaan toedraai.  Vir hulle twee moes die 200 liter water twee dae lank hou. Hulle het so mooi moontlik met die kosbare water gewerk.  Natuurlik was hulle vreugdevol verras toe hulle na VYF dae ontdek dat daar nog 100 liter water in die houer oor was.

Elma en Ruben is al vir jare besig om die ekologiese uitdagings met hul e-tydskrif onder ons aandag te bring.  Hulle het alle reg om vir ons almal te sê:  “Ons het julle gewaarsku, maar julle wou nie luister nie.”  Hulle doen dit egter nie.  Hulle aanvaar die krisis wat ons nou tref in ’n positiewe gees en stel ’n voorbeeld wat inspireer.  Lees gerus hulle storie by How to ditch DayZero.  Wie weet, dalk is Elma reg dat ons DagZero kan “ditch” as ons almal haar voorbeeld volg.

 

Voorstelle:

Persoonlik: Vanaf DagZero gaan elke persoon net 25 liter water kry.  As ons dié rantsoen nou reeds vir onsself instel, mag ons as verbruikers dalk self sorg dat DagZero (leë krane) nie opdaag nie.

Gemeentes: Hou ’n vergadering van lidmate in die gemeente wat almal boorgate het.  Laat hulle saam planne maak vir die voorsiening en verspreiding van water na daar in die gemeenskap waar dit die nodigste gaan wees as DagZero aanbreek.  Wat ’n wonderlike geleentheid vir VG- en NG-gemeentes om hande te vat.  Hopelik sal hierdie krisis ons verby ons grense vat.

 

David Botha nms Projekspan Ekologie

dpbotha2@gmail.com