Die hart of kern is die ding wat eintlik die probleem veroorsaak.  En soos met alle probleme is dit belangrik om die kern aan te spreek – anders gaan die probleem homself net herhaal.  Klein probleempies kan hulself seker maar herhaal, want hulle is meestal lastig en nie lewensbedreigend nie.  Wie egter lewensbedreigende probleme hanteer asof dit net ‘n lastigheid is, is bloot onverantwoordelik.

Daar is talle ekologiese probleme/uitdagings. Klimaatsverandering is een van hulle.  Dit is ‘n probleem met geweldige impak en rimpeleffekte – lewensbedreigende effekte! Dit is ‘n kritiese probleem, want dit is die oorsaak van baie ander probleme.

Wat is die kern/hart van klimaatsverandering?

Daar is ‘n dubbele oorsaak vir klimaatsverandering:

  1. Die aarde is deel van ons sonnestelsel, waarin die lewe van die son domineer.  En die son is dinamies met wisselende temperature.  Wetenskaplikes praat van ‘n siklus van 11 jaar waarin die son beweeg tussen sy minimum – en maksimum temperature.  Hoe meer aktief die son is, hoe warmer is hy en hoe warmer is die hele sonnestelsel – ook die aarde.  Die temperature op die aarde word dus beïnvloed deur die temperature van die son. En dit beïnvloed ons klimaatspatrone. Aan hierdie oorsaak kan ons niks doen nie.  Ons moet dit aanvaar.
  2. Verreweg die meeste wetenskaplikes stem saam dat die mens die ander faktor is wat die huidige verandering van die aarde se klimaat veroorsaak.  Die mens se lewenswyse (veral sedert die Industriële Revolusie) het met die son se dinamika gekombineer om ‘n verwarming van die aarde se atmosfeer te veroorsaak wat lewensbedreigend is vir al die bekende vorme van lewe soos ons dit ken – ons eie natuurlik ingesluit.  Aan hierdie oorsaak kan en moet ons iets doen.  Hoe dringend is dit?  Sommige wetenskaplikes is van mening dat dit reeds te laat is om die proses van aardverwarming om te keer.

Dit feit waarmee ons gekonfronteer word, is eenvoudig:  Die mens se lewenswyse bedreig alle vorme van lewe op die aarde – ook sy eie!  Dit is direk in stryd met die bedoeling van die Skepper. In Gen 2:15 staan: “Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en OP TE PAS.”  God se bedoeling met die mens was dat hy/sy lewe sou koester en beskerm.  Die mens se storie is tragies.  Ons is die teendeel van wat ons bedoel is om te wees.

Wat is die hart/kern van die probleem met die mens?  Waarom het ons in vernietigers van lewe verander? Ons het vir God uit die sentrum geskuif en onsself daar geplaas.  Ons het geleer om te dink en te leef asof alles op die aarde daar is ter wille van die mens en die mens se genot.  En só het ons van “versorgers” in “verbruikers” verander.  Dít is die kern/hart van klimaatsverandering!

Kan die mens as “versorger” herstel word? Dank God, Ja! Dit is waaroor dit in die Bybel gaan.  In Jesus Christus herstel God ons.  Sy dissipels hou op om vir posisie en status te kompeteer en leer om voete te was. Hulle soek nie meer om gedien te word nie, maar om te dien – al kos dit hul hul lewe.  Die oplossing is eenvoudig: ons moet padgee uit die sentrum uit. Die oplossing is egter nie maklik nie.  Dit kos ons ons lewe. En dit is die waarheid waarvoor Jesus Christus elke dissipel stel met die volgende stelling:  “Wie sy/haar lewe wil behou, sal dit verloor.”  Gelukkig met die volgende belofte daarby:  “Wie sy/haar lewe verloor, sal dit behou.” Hierin is die radikaliteit van die Christelike boodskap:  Mens kan net lewe koester en beskerm as jy bereid is om self te sterf.

Die droogte in die Wes-Kaap (en ander dele van die wêreld) roep ons nie net op tot waterbesparing en groter respek vir water nie; dit vra aan elkeen van ons: “Is jy bereid om te sterf ter wille van die lewe?”

 

Voorstelle:

Gemeentes: Maak seker dat die gemeente se totale bediening lidmate help met die sterwensproses in hul lewens.

Persoonlik: 

  • Aanvaar die feit dat jou lewenswyse klimaatsverandering beïnvloed en dat elke selfsugtige of ongeërgde daad die probleem groter maak. “Ek moet verander!”
  • Maak ‘n doelbewuste keuse om by Jesus Christus te leer om te sterwe ter wille van die lewe.
  • Kies om so eenvoudig moontlik te lewe.  Maak “noodsaaklik en genoeg” jou lewensreël.
  • Raak onslae van gewoontes wat lewe bedreig en neem.  Ontwikkel gewoontes wat alle vorme van lewe beskerm en koester.
  • Maak hierdie keuse prakties: bv.   Sorg dat dit wat jy nie nodig het nie, kom by hulle wat dit nodig het; stap meer en ry minder; plant bome en versorg hulle, ens.

 

David Botha (nms Projekspan Ekologie)
dpbotha2@gmail.com