Ek het nóg brood, nóg wyn, nóg altaar hier op die Asiatiese steppe, maar ek lig my op ver bo alle simbole na die suiwere majesteit van die Reële; en ek, u priester, offer op die altaar van die hele aarde die barensnood en die lyding van die wêreld … Glorieryke Christus, verborge roerende krag in die hart van die materie, gloeiende sentrum waarin die tallose drade van die veelvuldigheid saamgebundel is … U die eerste en die laaste wat in u oorvloedige enkelvoudigheid … al die fases van bestaan in U opneem. Na U roep my wese uit met ‘n verlange so groot soos die heelal: want U is my Here en my God. *

Só bid Teilhard de Chardin terwyl hy as teoloog/paleontoloog/argeoloog in die Chinese woestyn klippe bestudeer.  Hy is ver weg van enige kerkgebou en erediens.  Tog het hy ‘n nagmaal-ervaring – ‘n nagmaal-ervaring anderkant die nagmaal self.  Sy navorsing en bestudering van die klipgesteentes in die woestyn is vir hom ‘n erediens – ‘n lewende ontmoeting met die lewende God. Hy ontmoet vir Christus in die hart van die materie.  Vir hom is Hy die sentrum van alles wat geskep is.  Daarom ontmoet hy Hom in alles wat geskep is.

Die nagmaal in die erediens van die gemeente is eintlik ‘n bevestiging van hierdie waarheid.  Dit is die nagmaal se bedoeling om ons te help om Jesus as Christus te ontmoet in alles wat ons eet en drink – ja, in alle materie.  In Jesus van Nasaret word God ‘n mens, sodat mense kan weet dat God materieel by ons teenwoordig is.  Dit beteken dat ek ook (en dalk in die eerste plek) vir God in my eie liggaam ontmoet; en dan ook in die liggaam van elke ander mens; en ook in die liggaam van alle ander lewende wesens en elemente in die natuur.  Die sakramente (sakrament: dit wat heilig is) wil ons help om raak te sien dat ALLES wat geskep is in Christus heilig is.

In Lydenstyd sien ons wat ons as mense maak met ‘n mens wat dit durf waag om hierdie waarheid ernstig te neem en dit uit te leef.  Jesus glo dat Hy die geliefde seun van God is. Hy leef ‘n lewe waarin liggaam (materie) en gees volledig een is.  Sy liggaam en gees staan sáám in diens van die Liefde.  Sy hele bediening getuig daarvan dat God nie net in mense se siele belangstel nie, maar in hulle totale menswees (vergelyk al die genesingsverhale en die opwekking van Jesus se liggaam).  En ook dat God nie net daarop uit is om mense te red/versoen nie, maar die ganse skepping (kosmos: 2 Kor 5:19).

Dit is die taak van alle gemeentes van Jesus Christus om lidmate te help om met Jesus as Christus gemeenskap te hê anderkant die erediens en sakramente en hul persoonlike godsdiensoefeninge.  Lidmate moet gehelp word om met Jesus Christus gemeenskap te hê in hulle totale belewenis – buite die vier mure van die kerkgebou.  As gemeentes dit nie doen nie leer lidmate hoogstens om godsdienstig te wees.  En godsdiensigheid is op sy beste slegs ‘n voorgereg en uitnodiging tot die ware Jakob – die feesmaal van/met die Lam.

Die Christene in die Keltiese wêreld het hierdie aangrypende seënbede:
Mag jy die gesig van Christus sien in elkeen wat jy ontmoet
        en mag elkeen wat jou ontmoet Christus se gesig in jou sien.

In navolging van Teilhard wil ek dit graag uitbrei:
… mag jy die gesig sien van Christus in alles wat Hy geskep het
        en mag alles wat Christus geskep het sy gesig in jou sien.

Voorstel:
Persoonlik:

  • Wat dink jy sal jou verhouding met jou eie liggaam wees as jy die gesig van Jesus Christus in jouself raaksien?  As jy oor jouself kan dink as die fisiese uitdrukking van God se  liefde?
  • Hoe dink jy sal jou verhouding met water wees as jy Jesus Christus se gesig daarin raaksien elke keer as jy dit gebruik?
  • Wat sal jou verhouding met al die mense wees wat jy elke dag in die oë kyk as jy bewus daarvan is dat jy elke keer in die oë van jou medemens jou Here en Skepper sien?

En wat van jou troeteldiere en al die plante in jou tuin en … ?

* Jaap du Rand se vertaling van Teilhard de Chardin se gebed in Evolusie, Wetenskap en Geloof, 2013; p 326; Bybel-Media.

David Botha (nms Projekspan Ekologie)
dpbotha2@gmail.com