Ek sit nou die dag in die skaduwee van ‘n drie jaar oue witstinkhoutboom.  Sy skadu is net genoeg vir my om onder in te hurk.  Terwyl ek vir hom water gee, het ek tyd om met hom kontak te maak en om oor sy betekenis in my lewe na te dink.  Vandat ek hom oorgeplant het, het hy nog nooit teruggekyk nie.  Hy beur boontoe en kante toe.  En beur is inderdaad sy voorland.  Die suidooste- en suidwestewinde maak beurte om hom heen en weer te waai – veral die suidoostewind!  Omtrent alle bome in die omgewing het ‘n weste groeineiging.  Die suidoostewind verhoed hulle om hul takke ooswaarts te kry.  Hierdie klein boompie probeer egter sy bes om teen die wind in te groei.  Daar is ‘n doelgerigtheid in hierdie boompie en ‘n vasberadenheid om te wees wat hy wesenlik is.  Hy wil en hy kan, maar nie sonder my nie.  Hy het my nodig om sy gat voor te berei en hom van kos en water te voorsien.  As ek nie getrou elke week twee keer water gee nie en humus bo-oor sy wortels pak nie, gaan die droogte sy lewe neem.  As ek nie die onkruid rondom hom in toom hou nie, gaan dit sy kos en water ‘steel’.

Gaandeweg dring dit egter ook tot my deur hoe afhanklik ek van hierdie boompie is (en al die ander bome op die aarde).  Die boompie vra nie net nie, maar gee ook.  Saam met alle ander boom- en plantspesies wat fotosinteer, hou hierdie boompie my aan die lewe.  Daar is ‘n onsigbare meelewing en interafhanklikheid tussen ons twee.  Ek sit langs hom en asemhaal.  Ek blaas koolsuurgas uit in die lug.  En sy blare neem dit op en verbind dit met die water wat ek hom gee om suiker en suurstof te vervaardig.  Die suiker gebruik hy om te groei en die suurstof stel hy vry vir my om weer in te asem.  En die suurstof wat ek by dié boompie kry, verbind met water in my liggaam om weer onder andere energie te produseer vir my lewe.  Wow! Skielik dring dit tot my deur dat ek meer afhanklik is van hierdie boompie as van my vrou – ja, selfs as van my ma.  Ek is terug in die biologieklas.

Net jammer ek het langs my grootword-pad kontak met hierdie werklikheid verloor.  Ek is na skool kweekskool toe.  Hierdie nuwe skool sou my leer om veral op die mens te fokus en spesifiek op die mens se geloofslewe.  Ek het vyf dae van elke week vir sewe jaar lank aan die voete van toeloë gesit.  Buite in die tuin van die kweekskool op Stellenbosch het daar groot bome gestaan.  Van hulle was waarskynlik dekades, selfs eeue, oud.  Vir sewe jaar lank het hulle my lewe help in stand hou.  Hulle was ook katedrale wat my uitgenooi het om by hulle te kom aanbid.  Maar ons het gekies om liewer in ‘n gebedskamer ons af te sonder.

En só het ek geleer dat teologie (‘n antroposentriese een met die mens in die sentrum!) baie belangriker is as die biologie en ander natuurwetenskappe.  Ek het geleer om oor God na te dink, maar dan uitsluitlik oor God se verhouding met die mens – só asof al die ander verhoudinge minder belangrik is.  Só asof God se liefde in Jesus Christus net vir mense bedoel is – en dan veral vir hulle siele.  En ek was baie meer begaan oor die pornografie op CNA se rakke as oor die ontbossing van die aarde se woude.

Die tempo waarteen die aarde se longe vernietig word, is skrikwekkend.  Kyk gerus na National Geography se bydrae hieroor by https://www.nationalgeographic.com/environment/global-warming/deforestation/.

En hier in die skadu van die klein witstinkhout huil ek.  En vra ek vergifnis.  En verbind ek my opnuut daartoe om nog bome te plant en hulle te versorg – as deel van ‘n lewe van omgee en dankbaarheid.  En hier sê ek dankie vir elke boom op die aarde wat my en alle ander mense se lewens in stand hou.

En die Seun van die mens vat my hand en neem my met Hom saam na Golgota – dié plek waar my eie ek sterf en die Ek wat ek in Christus is, opstaan.  Dit is hoe God God se skepping se barensnoodgebed na redding beantwoord (Rom 8:22).

Voorstel:

Persoonlik: Gaan na ‘n plek toe waar jy (of iemand anders) ‘n boom afgekap en doodgemaak het.  Bely die onsensitiwiteit en ongeërgdheid waarmee ons bome doodmaak vir selfsugtige begeertes en behoeftes.  Onderneem om hierdie herfs en winter ten minste drie inheemse bome te plant en vir die volgende vyf jaar te versorg.
Gemeente: Is daar ruimte op die kerkgrond wat julle het vir nog bome?  Beplant dit met inheemse bome wat in julle area goed aard.  Betrek die kinders daarby en by die versorging van die bome as deel van hulle kategese.  Gebruik lidmate in die gemeente wat kundig is om die kinders te leer wat die waarde van bome is vir gesonde en volhoubare lewe op aarde.

David Botha namens die Projekspan Ekologie
dpbotha2@gmail.com