Michiel van der Merwe, voormalige en eerste direkteur van Buvton (nou Communitas), het graag die beeld van ‘n vis in water gebruik as hy oor ons verhouding met God gepraat het.  Soos water die medium is waarin visse lewe, so is God die “medium” waarin ons as mense lewe.  Dit sluit nou aan by Paulus se woorde in Hand 17:28: “Want deur Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons…”.  Die meeste Engelse vertalings van hierdie teks vertaal as volg: “For in Him we live and move and have our being.”(NIV) Die mens leef en bestaan dus nie net deur God se bemiddeling nie, maar IN God self.

Dit is natuurlik nie net waar van die mens nie.  In Psalm 104, wat God as skepper en onderhouer besing, bely die gelowige dat God se asem (Gees) die wesenselement is wat aan alles wat God gemaak het, bestaan en lewe gee. Vers 30 in die Nuwe Direkte Afrikaanse vertaling (2014) stel dit só: Stuur U u asem, word hulle geskape.  Prof Willie Jonker het graag vir ons in die dogmatiekklas daaraan herinner dat God nader aan ons is as ons vel.  Hoe verstaan ‘n mens dit?  Nog belangriker, hoe beleef ‘n mens dit?  Ek het dit nog altyd uitsluitlik as ‘n geestelike waarheid verstaan.  Daar was twee redes hiervoor:

  •     God is Gees.  En daarom kan God net geestelik verstaan en beleef word.
  •     Ek het net toegang tot hierdie waarheid deur die geloof.  En belewenis daarvan is nie vir die geloof noodsaaklik nie.

Beide bogenoemde uitgangspunte is halwe waarhede wat my verhoed het om die rykdom en oorvloedigheid van ‘n intieme verhouding met God te beleef.

1.    God is Gees, ja. Maar God is nie net onsigbare Gees nie.  God word ook sigbaar en bewoon materie.  Dit is die boodskap van God se menswording in Jesus van Nasaret (inkarnasie).  Hiervan sing die vroeë kerk in Kol 1:13-20.  Vers 16 en 17 sê die volgende:  “… want in Hom (die Seun) is alles geskep: … die sigbare en die onsigbare dinge … alles is deur Hom en tot Hom geskep … en in Hom hang alles saam.”  Die Seun het dus nie eers en nét in Jesus van Nasaret deel van die fisiese wêreld geword nie.  Hy is die oorsprong van alles wat geskep is en deur sy inwoning in alles hou Hy dit bymekaar (een).  Daarom noem Openbaring Hom die “Alfa en die Omega”.  Ek ontmoet dus God die Seun in alles wat geskep is.  God die Seun se menswording in Jesus van Nasaret was God se manier om die mens terug te bring na hierdie waarheid, nl dat God in alles is en dat alles in God één is.  In Jesus leer ek verstaan, sê Paulus, dat “my liggaam ‘n ledemaat van Christus is” (1 Kor 6:15).  Ek het dus in my eie liggaam met Christus te doen. Wat ek aan my eie liggaam doen, doen ek aan Christus.  Dit is natuurlik nie net waar van my liggaam nie, maar van elke ander fisiese liggaam wat God gemaak het. Niks is uitgesluit nie. Niks!
2.    God is ten diepste misterie (moeilik/onmoontlik om te verstaan en te verduidelik).  En die aard van God se verhouding met materie is ook ‘n misterie.  Daarom is God en God se verhouding met materie werklikhede wat net deur die geloof ontvanklik én toeganklik is. Geloof stel my nie net in staat om die onsigbare te aanvaar asof dit sigbaar is nie (Heb 11:1), dit maak dit ook vir my moontlik en stel my in staat om die Onsigbare te sien en te beleef – in my eie lyf én die lyf van ‘n renoster, leeu, perlemoen, vis, plaasdiere, slang, vlieg, natuurverskynsels, ens, ens., alles!  Geloof skep belewenis. Geloof wat nie belewenis skep nie, is dood.  God wil hê dat ek God se teenwoordigheid in hierdie wêreld oral en in alles sal beleef.  Daarom skenk God geloof uit genade aan ons (Ef 2:8).

Nou verstaan ek waarom die Kelte só bid:
Groot God,
soos visse in water leef, wil ons leef in U
soos voëls in die lug vlieg, wil ons vlieg in U
soos bome uit die aarde groei, wil ons groei uit U
soos vlamme in die vuur brand, wil ons brand vir U. (My vertaling uit The Celtic Prayer Book, Volume One, p 266)

… en waarom God vir Job sê:
Miskien moet jy die diere vra om jou te leer,
die voëls daarbo om jou te vertel,
of praat met die aarde dat dit jou leer
en met die visse in die see dat hulle dit vir jou sê.
Wie van hulle weet nie almal dat die hand van die Here alles gemaak het nie?
Hy het al wat lewe, in sy mag,
die asem van elke mens. (Job 12:7-10)

… want God is self my, en alles wat lewe, se asem!

Voorstel:

Lees Job 12:7-10. Gaan sit iewers by ‘n dier, plant of enige natuurverskynsel met ‘n verlange en openheid om God daarin te ontmoet.  Laat dit met jou praat.  Moenie dit evalueer of analiseer nie.  Luister met al jou sintuie.  En wag geduldig, totdat jy van God se teennwoordigheid daarin bewus word.  Rus in hierdie bewuswording.  Volg die roeringe van die Gees van God in jou hart.

David Botha
(nms Projekspan Ekologie)
dpbotha2@gmail.com