Mense sou na Paasfees kon kyk en aflei dat dit alles oor die mens se redding gaan.  Dat alles wat God in Jesus van Nasaret gedoen het en op Paassondag sy hoogtepunt bereik ter wille van die mens is. Só ‘n afleiding is natuurlik verstaanbaar.  Die Bybelse verhaal gaan tog immers oor God se pad met mense.

Dit is egter vir die regte verstaan van Paasfees noodsaaklik om raak te sien dat God se bemoeienis met die mens deel uitmaak van ‘n groter verhaal, naamlik God se liefdesverhaal met God se skepping.  God het heeltyd en selfs in die eerste plek die welsyn en geluk van die hele skepping in die oog in alles wat God doen (Joh 3:16). Wat God dus met die mens doen, is ter wille van die hele skepping. Die Skrif sê dat die ganse skepping swaarkry as gevolg van die mens se opstand teen God.  In Rom 8 skryf Paulus dat die skepping, net soos ‘n verwagtende vrou uitsien na die geboorte van haar kind; uitsien na die bekendmaking van die mense wat God se kinders is. Die skepping sien uit daarna dat God die mens nuut maak, want deur die mens se toedoen, is die skepping aan groot lyding onderwerp.  Die mens se sug na bevryding, sê hy, is dieselfde sug as die sug van die skepping na bevryding.

Paasfees is bedoel om goeie nuus te wees vir die hele skepping.  Jesus se lewe en dood is nie God se ontruimingsplan (evacuation plan) vir die mens nie.  Paasfees is nie ‘n versekeringspolis vir die mens nie.  Dit is God se liefdesdaad ter wille van die hele skepping.  Dit staan in diens van God se “Kyk, Ek maak ALLES nuut”-program (Op 21:5).  Elke mens wat in Jesus as Verlosser glo, is deel van hierdie program van God (2 Kor 5:17).

Dit was God se bedoeling met die skepping van die mens dat die mens GOEIE NUUS moes wees vir die res van die skepping.  Helaas, die geskiedenis vertel ‘n ander verhaal. Juis omdat die mens vrywillig gekies het – en dit nog steeds doen – om te leef asof ons die sentrum van alles is en asof die skepping gemaak is om ons menslike begeertes te bevredig, was dit vir God nodig om die mens te red. God moes ons weer goeie nuus maak vir die skepping deur ons vry te maak van ons oriëntasie en oortuiging dat die skepping daar is net ter wille van ons.

Dit is hierdie oortuiging wat ten diepste daarvoor verantwoordelik is dat ons alles (selfs mekaar!) as kommoditeite sien wat ons kan verbruik. Hoe tragies is dit nie dat juis die Christendom geassosieer kan word met die misbruik en vernietiging van die aarde se natuurlike bronne en bio-diversiteit nie.  Die “heidene” wat ons met ywer bekeer het se lewenswyse was deurgaans meer goeie nuus vir die natuur as wat ons sin is. Ons het baie om te bely!  Ons het ‘n lewenswyse geleef wat die mens verhef het tot hoof bevoordeelde van God se liefde, ten spyte en in weerwil van Jesus se duidelike lering en voorbeeld:  Ek het gekom, nie om gedien te word nie, maar om te DIEN.

Miskien moet ons meer oor Jesus se lewe, dood en opstanding dink as ‘n genesingsplan eerder as ‘n reddingsplan.  In die mens, Jesus van Nasaret, gaan die totale mensdom op Goeie Vrydag graf toe om te sterf.  Ons het die dood nodig, want ons eie-ek (alles draai om my/ons-houding) moet sterf, sodat ons opgewek kan word as diensknegte van God en al God se skepsels. Jesus van Nasaret se verhaal is die verhaal van die geneesde mens – met die kruisiging as hoogtepunt.  Geneesde mense is mense wat hulle troon verlaat en diensknegte word. Hulle is nie langer op die opwaartse pad nie, maar op die pad ondertoe (Fil 2).  Sulke mense is goeie nuus vir die skepping en gee vir God vreugde. Hulle ontvang die opstanding as geskenk.

Vir nadenke

  • Ons verhouding met die res van die natuur (mense uitgesluit) is ‘n goeie barometer vir of ons die gebeure van Paasnaweek reg verstaan.
  • Hoe laat die volgende stelling jou voel:  Jesus red my ter wille van die aarde; nie sodat ek seker kan wees van ‘n plek in die hemel nie.
  • Wat is die verskil tussen waterbesparing ter wille van menslike oorlewing en waterbesparing ter wille van die natuur?  Wanneer is waterbesparing selfsugtig en wanneer nie?

David Botha
(nms Projekspan Ekologie)
dpbotha2@gmail.com