Waar begin die herstel van die mens se verhouding met die natuur?  Dit begin by die herstel van ons verhouding met ons eie liggaam, want die plek waar ons as mens die naaste aan die natuur is, is in ons eie liggaam.

Dit is onmoontlik om ‘n gesonde en heel verhouding met die natuur te hê solank ons ‘n stukkende verhouding met ons eie liggame het. En nou is dit juis ‘n kenmerk van ons westerse “beskawing” dat ons so verskriklik sukkel om in vrede met ons eie liggame te leef.  Daar is legio tekens dat ons sukkel om ons liggame onvoorwaardelik lief te hê en te aanvaar. Ons sien dit o.a. by die geweldige gewildheid van plastiese chirurgie in die westerse wêreld.  Volgens een bron is daar die afgelope dekade 98% meer plastiese operasie in Amerika gedoen as in die verlede.  Nog ‘n teken is die geweldige groot dieet-industrie.  Mense se behoefte om die natuurlike uit hul hare te krul of te “straighten” en te kleur is nog ‘n teken van ons gesukkel om vrede te maak met wie ons is en hoe ons lyk. Nog talle voorbeelde kan hier bygevoeg word.  Ons beheptheid met voorkoms het baie te maak met ons onvrede met ons eie liggame.

Ek lees van ‘n Britse TV-aanbieder wat eenmaal aangewys is as een van die aantreklikste (sexiest) vroue in Engeland. Sy vertel egter self dat sy eintlik van geen deel aan haar lyf gehou het  nie, behalwe haar voete. Haar verhouding met haar eie liggaam het eintlik getuig van ‘n diep ontevredenheid en verwerping.  Ontevredenheid lei tot disrespek en disrespek tot verwerping en uiteindelik selfs tot vernietiging. Op dié manier word ons ons eie liggaam se grootste vyand. En moenie die fout maak om te dink dit is net ‘n vrou-ding dié nie! Al hoe meer mans meld aan vir plastiese chirurgie.  En mans se veglustigheid en die vernietiging van lewe/habitat deur oorloë en ander vorme van geweld is niks anders as die uitdrukking van ‘n diepgewortelde selfhaat nie.

Dit is onvermydelik: solank daar selfs net een deel van my liggaam is wat ek haat, sal ek ook ander skepsels in die natuur vind wat ek haat. Hoe kan ek respek vir ander vorme van lewe hê as ek nie eers respek vir my eie liggaam het nie? Selfrespek en selfaanvaarding is voorwaardes vir respek en aanvaarding van alle ander vorme van lewe.

Ekologiese herstel begin dus by die herstel van die mens se verhouding met sy/haar eie liggaam.

In Jesus van Nasaret help God ons hiermee.  God se menswording is God se onvoorwaardelike JA! vir die menslike liggaam (en materie in die algemeen). In Jesus eindig God alle skeiding tussen liggaam, siel en gees.  In Jesus genees God alle vyandigheid wat ons as mens met ons eie liggame het.  In Jesus maak God alle verhoudinge heel (2 Kor 5:17) – ook ons verhouding met ons eie liggaam.  Dit is tog aangrypend dat Jesus na sy opstanding steeds in sy menslike liggaam woon en liggaamlik aan sy dissipels verskyn. Kyk net watter moeite doen Hy om vir Thomas aan te moedig om sy liggaam aan te raak.  God is volkome tuis in ‘n menslike liggaam – wonde en al!  En elke menslike liggaam is God se heilige woonplek (tempel) (1 Kor 6:19).

Eers wanneer ek as mens geleer het om ook tuis te wees in my eie unieke liggaam (met al sy gebreke), sal ek in staat wees om God raak te sien en lief te hê in die natuur buite my. Gert (‘n inwoner van Sunfield Home op Wellington wat met serebrale gestremdheid leef met ernstige liggaamlike inperking) sal altyd my mentor hierin wees elke keer as ek onthou hoe hy sy krom arms die lug in steek en sonder terughou sing: “Thank you Jesus for making me, me!”

Vir nadenke:

  • Daar is ‘n direkte verband tussen vyandskap met die natuur buite ons en ‘n vyandskap teenoor ons eie liggaam. Geweld na buite is ten diepste ‘n uitdrukking van geweld na binne.
  • Hoe gereeld betrap jy jouself dat jy negatief en verwerpend dink of praat oor jou eie liggaam?
  • Ons HET nie ‘n liggaam nie, ons IS ons liggame. Wat is die implikasies van hierdie stelling vir jou verhouding met jou eie liggaam?

David Botha
(nms Projekspan Ekologie)
dpbotha2@gmail.com