Die Badawi-olyfboom

Ons is besig om olywe te oes. Olyfbome word geweldig oud. Alice Grey vertel van een in Palestina (the Tree of the Badawi), wat meer as 5 000 jaar oud is. Elke jaar word twee derdes van hierdie boom se besondere groot oes aan die armes in Palestina uitgedeel as ‘n teken van solidariteit en welwillendheid met die gemeenskap en om ‘n goeie oes vir die volgende jaar te verseker. Hierdie boom is ‘n simbool van hoop en krag vir die mense van die omgewing.

Steve de Gruchy gebruik die olyf as simbool vir ‘n teologie wat seker maak dat omgee vir die armes (ekonomie) en omgee vir die omgewing (ekologie) as een omgee verstaan en beoefen word. Hy wys daarop dat daar mense is wat hierdie twee omgee-bedieninge hanteer asof hulle twee opsies is wat selfs teenoor mekaar staan. Dit is ‘n groot jammerte. In die ekonomie en die ekologie gaan dit oor presies dieselfde saak, nl. die EEN huis/huishouding waarvan alles op die aarde deel is.

In die ekonomie gaan dit oor die reëls vir die organisering van hierdie huishouding en in die ekologie gaan dit oor die studie van die maniere waarop dinge in hierdie huishouding in verhouding staan en geïntegreer is. Daar is ‘n onskeibare verband tussen die ekonomie en ekologie van die aarde en ook van ons individuele huishoudings. Die ekologie bestudeer die omgewing wat God geskep het waarin ons leef. Hierdie omgewing verskaf bronne en die ruimte waarbinne ons kan leef. Die bronne en ruimte is geweldig ryk met baie potensiaal, maar dit is nie oneindig nie. Die omgewing het grense en stel daarom ook grense. En dit is binne hierdie grense wat ons as mense moet leef.  Die reëls wat ons hiervoor opstel (ekonomie) moet in ooreenstemming wees met die potensiaal én grense wat die omgewing aan ons stel. As ons die begrensdheid van ons omgewing ontken of ignoreer, gaan ons die omgewing skade aandoen en sodoende ons tuiste se vermoë om ons te versorg en te huisves, vernietig.

En dit is presies wat ons reeds gedoen het en steeds doen. Ons huidige ekonomiese stelsel met sy ingesteldheid op groei, veroorsaak dat ons ons huishouding se bronne uitput en dit só vinnig verbruik dat dit nie kan herstel nie. Daarom het ons ‘n ekologiese krisis. En die mense wat in hierdie krisis die swaarste kry, is die armes. Daarom behoort ons omgee-bediening na die armes ook ‘n omgee vir die omgewing in te sluit. Armoedeverligting en -uitwissing is slegs moontlik in ‘n gesonde ekologiese omgewing. Wanneer iemand TB opgedoen het vanweë ‘n ongesonde omgewing, help dit eintlik niks om so ‘n persoon met medikasie te behandel nie, tensy die omgewing wat die oorsaak van die TB is ook behandel word. Net so help ons pogings om die ekonomie te laat groei niks as die einste pogings net nog verder daartoe bydra dat ons omgewing (huis) se kapasiteit om ons te versorg daardeur verder beduiwel word nie.

Ons kerklike betrokkenheid by armoedeverligting moet dus noodwendig ook ‘n omgee-bediening vir die omgewing insluit.

Vrae en voorstelle:

1.    Is die omgewing deel van julle gemeente se omgee-bediening?
2.    Reël ‘n konferensie in julle gemeente oor die verband tussen ekonomie en ekologie as deel van die ontwikkeling van ‘n geïntegreerde omgee-bediening.
3.    Plant ‘n paar olyfbome as ‘n daad van hoop en liefde teenoor die omgewing en toekomstige geslagte.

David Botha
(nms Projekspan Ekologie)
dpbotha2@gmail.com

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *