Johan Botha

Die Projekspan Ekologie het besluit om ‘n paar bome te plant in herinnering aan Johan Botha, voormalige bestuurder van die Diensgroep Getuienisaksie van die VGK/NGK in Kaapland en ook ‘n entoesiastiese lid van ons Projekspan, wat skielik op Vrydag 21 Oktober 2016 aan malaria oorlede is.

Enkele dae gelede het ons ses Pompon-bome (dais cotinifolia) geplant wat ‘n klein laning gaan maak. Hulle is vinnig-groeiende imheemse bome wat so 6 tot 7 meter hoog word, met ‘n regop en netjiese groeiwyse. Hulle dra massas bolvormige blomme vanaf November tot Februarie wat heerlik ruik en ‘n ryk inseklewe ondersteun.

As DJ Opperman die troos van ‘n vrou in herinnering kon roep elke keer as hy ‘n nartjie skil*, kan ons sekerlik ook vir Johan onthou elke keer as ons onderdeur hierdie laning bome loop. Johan was ‘n apostel van die Liefde.  Ons sal dit elke keer onthou en waardeer wanneer ons hierdie ses bome sien met hulle oorvloed van blomme. Hopelik sal dit ons ook help om meer liefdevol te leef en die eenheid van die kinders van God te bevorder – nie net met mekaar nie, maar ook met die res van die skepping.

‘n Voorstel

Hier is ‘n kans vir ‘n positiewe, sinvolle en MOOI projek:  Ons plant ‘n boom vir elke lidmaat in die gemeente wat ons gehelp het om toegewyde dissipels van Jesus Christus te wees – m.a.w. apostels van die Liefde.  Ons kan dit noem “Bome van Liefde” – of só iets.  Deeglik gedoen kan dit ‘n klomp positiewe energie losmaak en die omgewing mooi maak en die kwaliteit van lewe in julle omgewing verhoog:

  • Doen julle beplanning deeglik; kyk watter inheemse bome in julle omgewing aard en floreer en watter tyd van die jaar die beste tyd vir plant is;
  • Gebruik lidmate se grond en gemeentegrond en as dit opraak, onderhandel met die munisipaliteit vir grond (bv. die begraafplaas, oop publieke areas, sypaadjies, ens.);
  • Laat die familielede self die boom kies wat hulle met hul geliefde assosieer;
  • Onthou om die boom se uiteindelike grootte en wortelstelsel in ag te neem by die keuse van ‘n boom vir ‘n spesifieke plek;
  • Betrek kundiges (kwekerye, natuurbewaring, botaniste, ens.) uit julle gemeenskap om hiermee te help. Ons wil nie ‘n boom plant net om dit later weer te moet uithaal nie;
  • En onthou: elke jong boom het iemand nodig om gedurende die eerste drie jaar van die boom se lewe dit weekliks te versorg. Die familie van die gestorwene kan hierdie verantwoordelikheid op hulle neem;
  • ‘n Naambordjie met die oorledene se naam kan uiteindelik op die boom aangebring word.

Dais cotinifolia

Ons het nie sinodebesluite hiervoor nodig nie. Net plaaslike entoesiasme!

* Vgl DJ Opperman se gedig: Sproeireën.

David Botha
nms Projekspan Ekologie
dpbotha2@gmail.com

NS: Johan se laning liefdesbome is geplant op Sionsberg, aan die voet van Ontongskop by Tulbagweg. Kom onthou hom gerus. Of plant iewers naby jou vir Johan ‘n boom en onthou hom daar.