Die manier waarop ons as mense ons verhouding tot die res van die natuurlike omgewing verstaan, bepaal hoe ons teenoor die natuur optree. In die geskiedenis van die kerk kan ‘n mens breedweg drie modelle identifiseer wat aandui hoe ons as mense ons verhouding met die res van die skepping verstaan:

  • Die heers-en-onderwerp-model
  • Die rentmeesterskapmodel
  • Die oikosmodel (oikos is die Griekse woord vir “huishouding”)

Mense wat die heers-en-onderwerp-model steun, haal graag vir  Gen 1:26 en 28 aan. Die woord “heers” kom in albei verse voor. Volgens hierdie model het God die aarde en alles daarop geskep ter wille van die mens. Die feit dat die mens laaste geskep is, word as bevestiging hiervan gesien. Ps 8 (vgl veral verse 5-9) word dikwels ook ter ondersteuning van hierdie standpunt gebruik. Dit is veral uit vers 6 (“U het hom … met aansien en eer gekroon“) wat die gedagte ontwikkel het dat die mens die kroon van die skepping is. Die doel van die skepping is dus om in die mens se behoeftes en begeertes te voorsien. En God gee aan die mens ‘n posisie van heerskappy oor die res van die skepping met ‘n duidelike opdrag, nl. “heers daaroor en onderwerp dit”. In hierdie model is die mens in die sentrum.

Dit is nie moeilik om raak te sien dat hierdie standpunt groot gevaar inhou nie. Dit gee aan die mens ‘n plek en opdrag met goddelike sanksie wat aan ons ‘n vrye hand gee. En dit lewer die res van die skepping uit aan die keuses en optrede van die mens. Daar is ‘n uiterste naïwiteit aan hierdie model gekoppel wat daaraan ‘n vernietigende potensiaal gee. Dit hou glad nie rekening met die konteks in Genesis en die res van die Skrif nie – veral nie met Gen 3 nie. Genesis 3 vertel die tragiese verhaal van die “val” van die mens. Die mens kom in opstand teen God. Die mens wil self God wees.  Die Bybelse verhaal eindig nie by Gen 2 nie. Heelwat later lees ons van ‘n kruis op Golgota – die teken van wat die mens met God doen. Hierdie model hou glad nie genoeg rekening met die mens se sondigheid nie.

Dit is ook nie moeilik om raak te sien dat daar ‘n duidelike verband is tussen hierdie model en die huidige ekologies-ekonomiese uitdagings waarvoor ons staan nie. As ons daartoe in staat is om  vir God dood te maak, dink net wat sal ons met die res van die skepping doen! En wat het ons nie gedoen nie – selfs in die naam van God.

Gelukkig is daar ander maniere ook om oor die verhouding tussen die mens en die res van die skepping te dink. Volgende week praat ons oor die rentmeesterskapmodel.

Vraag:    Kan jy tekens van die heers-en-onderwerp-model in jou lewe sien? En in die optrede van die mense (ook korporatiewe instellings) rondom jou?

Mag God – wat nooit onttroon kan word nie -aan jou en jou omgewing vrede gee.

David P Botha
(nms Projekspan-Ekologie)
dpbotha2@gmail.com