In die geskiedenis van die kerk kan daar breedweg drie modelle onderskei word wat uitdrukking gee aan die mens se verhouding met die res van die skepping en die mens se rol daarin:

  • Die heers-en-onderwerp-model
  • Die rentmeesterskapmodel
  • Die oikos (huishouding)-model

Ons kyk hierdie week na die rentmeesterskapmodel. Volgens hierdie model word die plek en rol van die mens in die skepping uitgedruk deur die woord “rentmeester”. God het die mens gemaak en aangestel om namens God en in diens van God vir die res van die skepping te sorg.  Hierdie model lê groot klem op Gen 2:7 en 15. Vers 7 beklemtoon die feit dat die mens uit die stof van die aarde gevorm is. Daar is dus ‘n intieme verbondenheid en interafhanklikheid tussen die mens en die res van die skepping. Vers 15 gee aan die mens die opdrag om die aarde te “bewerk en op te pas“. Die mens ontvang dus van God ‘n aktiewe rol om as versorger van die aarde op te tree. Hierdie model handhaaf nog altyd, net soos die heers-en-onderwerp-model,  die sentrale plek van die mens in die skepping, maar dit verander die mens se opdrag van “heers” na “versorg”.  Alles in die skepping is nie vir die mens gemaak om as heerser (kroon) te geniet nie, maar die mens is geskep om die res van die skepping as dienskneg te versorg.

Dit is duidelik dat hierdie model ‘n groot korreksie bring op die heers-en-onderwerp-model. In die heers-en-onderwerp-model is die mens met sy/haar behoeftes in die sentrum as kroon van die skepping met ‘n vry hand. Alles is ter wille van die mens geskep. In die rentmeesterskapmodel is die mens steeds in die sentrum, maar dan met ‘n opdrag om die res van die skepping te dien. Die skepping is nie daar ter wille van die mens nie, maar die mens ter wille van die skepping.

Die meeste kerklike tradisies sal waarskynlik hulself amptelik met die rentmeesterskapmodel identifiseer. Ek reken dit is ook waar van die VGK en NGK. Of dit ook die model is waarmee die meeste gemeentes en hul individuele lidmate identifiseer, is ‘n ander saak.  Daar is dikwels ‘n wanverhouding tussen wat die kerk amptelik sê en wat die kerk op die grond uitleef. Dit is omdat daar twee prosesse in die kerk werksaam is, nl. ‘n formele en informele proses. En in die praktyk slaan die informele proses die trom die hardste.

Voorstel:
Bedink en bespreek die volgende vrae:
1.    Is julle bekend met die amptelike besluite wat jul kerk oor die ekologie geneem het? Indien nie, vind uit en maak seker dat jul gemeente daaroor ingelig word.
2.    Waar sien jy/julle dienskneg/versorging-aktiwiteite van mense teenoor die res van die skepping:

  •         in jou eie lewe en jul gesin
  •         jul gemeente se bediening
  •         en die breër gemeenskap?

David P Botha
nms Projekspan-Ekologie
dpbotha2@gmail.com