Lucia Oosthuysen, een van Hope Prison Ministry se vrywilligers, deel met ons van die aangrypende ervarings wat sy al by hierdie bediening se herstellende geregtigheidsessies beleef het.

“Jy luister na die jong vrou, verhoorafwagtend na sy op straat iemand beroof het van ’n selfoon en kontant. Jy hoor hoe sy in die dwelmgreep verval het; hoe sy mense wou beïndruk. En nou dam die trane in haar mooi oë op oor haar kleine seuntjie wat binnekort alleen gaan verjaar …

“Jy huil saam met die pragtige meisie wie se ma absoluut niks van haar wil weet nie; sy het immers die hele huis leeg gesteel en selfs Pa se spaargeld onttrek. Sy val in ’n bondeltjie neer in desperate roepe na regmaak.

“Jy staan verslae oor ’n pa wat weet van haar en selfs haar naam ken, maar nog nie sy dogter van 30 jaar oud gesien het nie. En dan, by die Familie Versoeningsdag, nie weet watter een is dan nou sý kind nie; sy sê-vra huiwerig: ‘Sal ek jou Pa noem?’

“Jy hoor die vrees in die stem van die veroordeelde, verdoemde wat huiwer om sy familie te nooi na die Versoeningsdag omdat hy uitgewerp is uit die kring en die gemeenskap hom sal wil kruisig. Maar dan die hartgrondige belydenis en berou en versoening as hulle wél kom. En sy besliste uitspraak: ‘Nou is ek weer mens!’ ”

Die herstel van verflenterde, verwronge, gebroke verhoudings gee weer staanplek in die lewe; maak ’n nuwe venster oop … ook na Bo.

 Kontak Lucia Oosthuizen by luciaoosthuysen@gmail.com vir meer inligting.