Elizabeth Kampheta (links) en Mery Chinthuchanji met ‘n groepie leerlinge wat baie bly is oor ‘n skenking notaboeke!

Elizabeth Kampheta, hoof van KIX Kleuterskool, deel met ons die volgende oor hierdie besondere skool vir kinders op en om Malingunde, Malawi:

“Hier by KIX maak ons gereed vir die sesde spesiale plegtigheid op 22 Julie, om sertifikate aan ons vyf-jarige leerlinge te oorhandig.  Daar is 29 seuns en dogters wat met hulle sertifikate in die hand, ingeskryf sal word by die plaaslike Primêre Skool.

“KIX Kleuterskool bied aan ons kindertjies in die gemeenskap van Malingunde die geleentheid om nie net skoolgereed nie, maar ook met ‘n verwoordbare kennis van die Woord en verhouding tot Jesus as Verlosser, hul akademie in die groter skool te gaan voortsit.

“Tydens hierdie sesde jaar het KIX sestien seuns en dogters aan borge gekoppel.  Hulle moes lank wag om ook univorms te kry, maar kom nou daagliks skool toe, netjies versorg deur hulle bevoorregte ouers.”

Mev Elizabeth Kampheta (hoof) en Mev. Mery Chinthuchanji hou al vir ses jaar skool by KIX en word jaarliks deur kollegas van die Primêre Skool verder bemagtig in die nuwe leerplan vir “Early Childhood Development” wat deur die regering vereis word.

 

(Met dank aan AnnaMarie de Klerk wat die inligting help bekom het.)