In die geskiedenis van die kerk kan daar breedweg drie modelle onderskei word wat uitdrukking gee aan die mens se verhouding met die res van die skepping en die mens se rol daarin:

  • Die heers-en-onderwerp-model
  • Die rentmeesterskapmodel
  • Die oikos (huishouding)-model

Ons het die vorige twee weke gekyk na die heers-en-onderwerp-model en die rentmeesterskapmodel. Hierdie keer fokus ons op die oikosmodel. Die heers-en-onderwerp-model lê groot klem op die mens se uitgesonderde posisie as heerser in en oor die skepping. Hierdie standpunt rus sterk op Gen 1:26 en 28 en Ps 8 se beskrywing van die mens se rol as heerser oor en kroon van die skepping. In hierdie model het die mens ‘n vryheid om alles in die skepping te gebruik tot die mens se voordeel. Die skepping staan in diens van die mens en is dus uitgelewer aan die mens. Die rentmeesterskapmodel bring ‘n korreksie op die heers-en-onderwerp-model. Alhoewel die mens steeds in die sentrum van die skepping is, word die mens se rol in die skepping verander van heerser tot dienskneg. In hierdie model staan die skepping nie net in diens van die behoeftes van die mens nie, maar staan die mens as God se verteenwoordiger ook in diens van die skepping. Gen 2:15 formuleer die mens se rol met die twee woorde “bewerk” en “bewaar”. Dit spreek vanself dat die skepping met só ‘n verstaan van die mens se rol heelwat veiliger is en minder uitgelewer is aan die mens se behoeftes en begeertes.

Tog is daar ‘n groot groep mense in die kerk wat reken dat die rentmeesterskapmodel nie ver genoeg gaan nie. Hulle oordeel ook dat beide die vorige twee modelle te veel steun op enkele tekste in die Bybel wat buite konteks gelees en gebruik word. Uitgaande van Gen 2:7 se weergawe van die mens se skepping “uit die stof van die aarde” beklemtoon hierdie mense die feit dat die mens deel is van die res van die skepping.  Hierdie model sluit aan by die rentmeesterskapmodel se klem op die mens se rol as dienskneg, maar nie vanuit ‘n verhoogde en verhewe posisie nie. Die mens is deel van die groot familie van alles wat God geskep het.

St Fransis van Assisi word beskou as iemand wat hierdie verstaan uitgeleef het. Daarom dat hy dit kon regkry om na die son en maan en ander lewende wesens as broer en suster te verwys.  Vanuit ‘n verbondenheid met en inter-afhanklikheid van die res van die skepping het die mens die verantwoordelikheid om God se liefde teenoor alle ander skepsels uit te leef. Die skepping is God se een groot huishouding (oikos in Grieks) waarin elke skepsel en element op ‘n unieke manier uitdrukking gee aan God se wese/DNA. God het in Jesus van Nasaret ‘n mens geword om mense te versoen met beide hul geestelike en aardse oorsprong. En sodoende het God die mens verlos van die hoogmoed wat veroorsaak dat die mens leef asof ons die sentrum en kroon van die skepping is. Die heers-en-onderwerp-model en die rentmeesterskapmodel lê beide groot klem op die goddelike/hemelse oorsprong van die mens, terwyl die oikosmodel groot klem lê op die aardse oorsprong van die mens. Die mens se taak op die aarde is nie om te heers en te onderwerp nie, selfs ook nie om die res van die skepping te dien nie, maar om te leer wat dit beteken om eg liefdevol mens te wees. Die beet se opdrag is om ‘n beet te wees. Die perd se opdrag is om ‘n perd te wees. Net so is dit die mens se skeppingsopdrag om ‘n mens te wees in die een groot huishouding (oikos) van God binne-in al die verhoudinge van spesies en elemente tot mekaar (ekologie). Die verskil tussen my as mens en die perd is dat die perd niks anders kan as om ‘n perd te wees nie, terwyl ek as mens ‘n keuse het. God het my met ‘n vryheid geskep wat die perd nie het nie – die vryheid om te sê: “Ek is nie tevrede om ‘n mens te wees nie, ek wil graag God wees.” En die Bybelse verhaal, vanaf Gen 2 tot Open 22, gaan oor die tragedie van die mens se verkeerde keuse en God se opofferende ywer om die mens en die res van die skepping te verlos van die gevolge van hierdie keuse.

Voorstel:

1.    Dink na oor die volgende stelling:  God het nie in Jesus van Nasaret ‘n mens geword om jou siel te red en seker te maak dat jy hemel toe gaan nie. God het mens geword om jou te red van jou neiging om God te wil wees en om jou te leer wat dit beteken om eg mens te wees.
2.    Gesels in julle gesin, kleingroep, bediening, kerkraad, ens. oor hierdie stelling.

David P Botha
nms Projekspan-Ekologie
dpbotha2@gmail.com