Kobus Odendaal (agter) ’n paar maande gelede tydens ’n vergadering met die Mobiele Kliniek-span: Dausse Nthenga, Jaluma Johasse en Lucrecia Avora

“Wat ’n voorreg om na twee jaar weer rustig op Vila Ulóngúe (Noordwes-Mosambiek) te kon kuier vir veertien dae!” So sê Helen Meyer wat voorheen daar as verpleegsuster gewerk het en in Desember weer daar op besoek was.

“Ek het heerlik gebly en is bederf met etes en geskenke van piesangs, eiers, grondboontjies en nog meer!”

Die Mobiele Kliniek, wat destyds deur Helen begin is, is steeds volstoom aan die gang met Dausse Nthenga, Jaluma Johasse en Lucrecia Avora in die span.

Helen vertel verder: “Ons kon baie tyd spandeer om al hul probleme te bespreek, ook saam met pastor Nobre wat nou die algemene sekretaris van ons susterskerk daar, die IRM (Igreja Reformada em Moçambique) Mphatso Sinode is.

“Hulle besoek maandeliks tien klinieke (waarvan die meeste op afgeleë plekke is) elke Maandag, Woendag en Vrydag onder moeilike omstandighede. Die vroue stap baie ver en moet soms oornag om betyds by die kliniek te kom. Meer as 2 300 kinders word dan geweeg en swanger vroue word ondersoek. Die babas kry ook al hul inspuitings volgens hulle groeikaarte (wat hulle soos goud oppas – as die huis brand, is dit die eerste ding wat hulle sal gryp!). Die span bring ook elke oggend ’n boodskap uit die Bybel aan die mense wat dit andersins nooit sou hoor nie.

“Een groot probleem is dat hulle die afgelope jare geen medisyne meer van die regering kon kry nie, so as daar ’n doodsiek kind is, staan hulle magteloos. Vorige pleidooie by die owerhede was vrugteloos as gevolg van finansiële tekorte.

“Hierdie keer het pastor Nobre saam met my en Daussi na die direkteur van die hopitaal gegaan waar ons baie goed ontvang is. Hy het ook sowaar toestemming gegee dat die Mobiele Kliniek medisyne kon bestel van die hospitaal! Hy het sy dank uitgespreek oor die goeie werk wat die Mobiele Kliniek doen en wil selfs hê dat hulle na nog twee areas moet gaan! Wat ’n gebedsverhoring!”