Koos du Plessis was al jare gelede onder die indruk van die versmorende probleem van rommel. In sy lied “Spore op die maan” sing hy:

Elke nuwe plan lê hopeloos verfrommel,
want iets sê: “Stomme drommel,
die ruimte lê vol rommel!”…

Want die stad blom elke nag,
strooi sy saad en skemerdag
breek staalspruite deur die aardkors,
waar jy gaan.
Rommelberge groei omheen
en daar’s swaelsuur in die reën –
en, kyk, daar lê reeds spore op die maan. (CD: Herbergier)

Huishoudelike afval is een van die kopsere van munisipaliteite. Hulle spandeer miljoene rand om stortingsterreine op te rig en te bestuur en om vullis wat uit huishoudings kom, op te tel. En stortingsterreine is meesal ‘n seer in die aarde wat soos ‘n wond aanhoudend sweer en etter produseer. Daarom word daar wêreldwyd baie moeite gedoen om tegnologie te ontwikkel wat die verwerking van afval makliker en skoner maak. Die voor-die hand-liggende prioriteit is egter dat ons die probleem by sy oorsprong moet aanspreek, naamlik by ons huise. Huishoudelike afval kom immers van huise af!

Wat kan ons doen om hierdie probleem ten minste kleiner te maak? Ons kan elkeen sorg dat ons huishouding so min rommel moontlik oplewer. Dit is verstommend hoe baie ons in hierdie verband kan doen. En hoe groot die effek is wat dit kan hê. Voordat ons gesin met herwinning begin het, het ons elke week ten minste een swart sak in die munisipaliteit se vullislorrie gelaai. Nou produseer ons ‘n halwe sak elke twee maande. Ons druk op die munisipale stortingsterrein is dus met ten minste 94% verminder.

Herwinning maak ‘n reuse-verskil. As mens die glas, plastiek, papier/karton en blik uit jou huisrommel verwyder, krimp die inhoud van die vullissak drasties. Plaas hierdie items in afsonderlike houers en sorg dat dit by ‘n herwinningsfasiliteit uitkom indien jou munisipaliteit nie herwinning doen nie.

Die maak van kompos sorg dat alle organiese materiaal uit die kombuis nie meer in die vullissak beland nie. Daar is baie goeie wenke op die internet vir die maak van kompos (bv https://www.netwerk24.com/tuis/Tuine/Tuindagboek/so-maak-jy-jou-eie-kompos-20170914). ‘n Alternatief vir ‘n eie komposhoop is ‘n wurmplaas. Al die afval van vars produkte in die kombuis word vir die erdwurms gevoer wat dit binne drie tot vier maande tot goeie en fyn kompos verwerk. Nie alleen maak dit die vullissak ligter nie, maar dit verskaf dan ook kompos en selfs vloeibare kos vir die plante in en om die huis. Dit verlig weer die druk op die tuinmaak-rekening. Lees hieroor by https://www.netwerk24.com/tuis/Tuine/Tuindagboek/maak-jou-eie-erdwurmkompos-20170914.

‘n Mens kan egter nie alles vir die erdwurms voer nie. Gaar kos is bv nie goed vir die wurms nie. Bokashi is nog ‘n manier om kompos te maak. En ‘n mens kan omtrent enigiets in die bokashi- houer gooi en die materieel is vinniger gereed vir gebruik in die grond. Bokashi verskaf ook net soos ‘n wurmplaas ‘n vloeibare “tee” wat ‘n mens as voedsel vir die plante kan gee. Vir meer inligting hieroor kan www.probio.co.za  geraadpleeg word.

Nadat al die glas, papier/karton, blik en plastiek vir herwinning gesorteer  is en die organiese afval vir die wurms of bokashi gevoer is, bly daar vreeslik min oor vir die vullislorrie om te laai. En só laat ons die rommelberge waarvan Koos sing, krimp.

Voorstel:

1.    Doen ‘n gesinsinspeksie van julle huishouding se vullissak(ke). Wat getuig jul vullisakke oor jul leefstyl?
2.    Reël ‘n besoek vir jul gemeente aan jul plaaslike stortingsterrein as deel van ‘n bewusmakingsaksie. Praat agterna oor jul waarnemings en gevoelens. Wat het julle gesien, geruik, gevoel en geleer?

David P Botha
dpbotha2@gmail.com