Volgens ‘n verslag wat WWF (World Wildlife Fund) verlede jaar vrygestel het, word een derde van al die kos wat in Suid-Afrika geproduseer word nie geëet nie en beland op ons stortingsterreine (http://www.wwf.org.za/?21962/The-truth-about-our-food-waste-problem). Daar word 31 miljoen ton kos per jaar in SA geproduseer, waarvan 10 miljoen ton op stortingsterreine beland. Plaas ons dit in die konteks van armoede in SA is dit skokkend en absoluut onverskoonbaar.

Volgens South African Food Sovereignty Campaign (SAFSC) was daar in 2017 14 miljoen Suid-Afrikaners wat elke aand sonder ‘n maaltyd bed toe gegaan het. Alhoewel die verbruikers nie die grootste sondebokke vir hierdie vermorsing is nie het ons ‘n belangrike bydrae om te maak om hierdie vermorsing om te keer. Ons kan die volgende doen:

Kweek ‘n kultuur van geen vermorsing in julle huishouding.

  • Maak seker dat geen kos in julle huishouding in die vullisdrom beland nie.
  • Vind uit wie van die 14 miljoen honger mense in julle dorp/woongebied honger gaan slaap en sorg dat jul “oorskiet” daar uit kom. As dit te veel na “hands out” voel, vries jul oorskiet en gebruik dit vir ‘n kreatiewe dis. Van die lekkerste etes in ons huis was van gevriesde oorskietkos gemaak.
  • Beplan julle etes deeglik om seker te maak dat julle nie te veel voorberei nie. As julle uiteet, neem altyd dit wat jy nie kan baasraak nie in ‘n “doggie bag” huis toe. Wat op jou bord agterbly gaan definitief vullisdrom toe!
  • Moenie meer koop as wat julle gesin nodig het en kan opgebruik nie. Dit sal ook verhoed dat vars produkte in die yskas sleg word.
  • Bestuur julle yskas se inhoud getrou en doelgerig.
  • Moenie kos weggooi net omdat dit die “best before”-datum bereik het nie. Maak seker wat die kwaliteit daarvan is. Ons het bv al Chinese kool vir nog ‘n maand na die vervaldatum gebruik.
  • Maak seker dat julle yskas effektief werk.
  • Oefen druk uit op verpakkingsinstansies, leweransiers en kettingwinkels om kos met respek te hanteer en vermorsing teen te werk.

Elke keer as ons eet of drink (van ‘n happie tot ‘n volle maaltyd) het ons ‘n ontmoeting met God. ‘n Mens se houding teenoor kos en drank en hoe ‘n mens dit hanteer, het dus alles met ons godsdiens te doen.

Voorstel:

  • Doen saam ‘n evaluering van julle hantering van kos (veral oorskiet).
  • Wat sê dit van jul gesin se houding teenoor kos?
  • Wat kan julle vorentoe anders doen?
  • Hoe hanteer julle gemeente kos by gemeente etes/basaars/ens?

 

David P Botha
dpbotha2@gmail.com