Iewers in die 1990’s het ons met die kinders in die VGK van Darling ‘n skoonmaakaksie gehad. Ons het ‘n berg vol sakke vullis in die dorp se vlei en strate opgetel. Om die gemeente onder die indruk te bring van die skadelike effek wat rommel (veral plastiek) op die omgewing het, het ons ‘n kundige by die Universiteit van Stellenbosch gekontak vir inligting hieroor. Tot ons verbasing was sy reaksie dat rommel nie eintlik die omgewing benadeel nie.  Dit was egter 20+ jaar gelede. Vandag weet ons dat rommel ‘n geweldige nadelige effek op die omgewing het – veral plastiek wat van fossiel brandstowwe gemaak word. Om die waarheid te sê, plastiek is oral – selfs binne-in ons eie liggame!

Ek het vandag met ‘n skok besef dat ons elke dag plastiek eet en dit ten spyte daarvan dat ons vegetariërs is. Studies wat die afgelope paar jaar in Spanje, Engeland, China, Frankryk en Amerika gedoen is, sê almal die selfde ding: sout wat uit die see geneem word, bevat klein deeltjies plastiek! En toetse van kraanwater in ‘n wêreldwye studie het aangetoon dat meer as 83% van die monsters positief getoets het vir plastiek. Nog ‘n studie het getoon dat selfs fonteinwater met plastiek besoedel is. En ‘n studie in Parys het aangedui dat tonne plastiek uit die lug op die stad “reën”. Kyk gerus na die volgende skakels en hul aanhangsels vir meer inligting: https://bit.ly/2D6IC9w; https://bit.ly/2wDG9y1.

Daarom gebruik wetenskaplikes al hoe meer die woord “ubiquitous”(oral teenwoordig) as hulle oor plastiek praat. Ons hele omgewing is besoedel deur plastiek. Ons eet, drink en asem dit in. Ongelukkig weet wetenskaplikes nog nie wat die effek van die plastiek op die mens se gesondheid is nie. Nog baie navorsing is hieroor nodig. Navorsing is ook nie sonder uitdagings nie. In Amerika byvoorbeeld word hierdie navorsing bemoeilik deur die feit dat 95% van die bevolking reeds plastiek in hulle urine het. Dit is dus uiters moeilik om ‘n kontrolegroep vir navorsing te kry wat nie reeds plastiek in hul liggame het nie.

Hierdie ontdekkings moet ons nederig maak. Dit was nie die bedoeling van die vervaardigers van plastiekprodukte om die wêreld te besoedel nie. En tog het dit gebeur. Een van die redes hiervoor is ons absolute ongeërgde houding en onkundige hantering van plastiek. Net 30% van die plastiek wat wêreldwyd geproduseer word, word herwin. Die res beland as afval op stortingsterreine, riviere, die see en land. Nou verstaan ek waarom sommige lande besoedeling as ‘n kriminele oortreding beskou.

Wat kan ons doen?

1.    Kom ons raak plastiek-bewus.

2.    Moenie plastieksakke vir inkopies gebruik nie.

3.    Kom ons doen ons aankope met die gedagte om ons verbruik van plastiek so laag as moontlik te kry.

4.    Kom ons maak seker dat alle persoonlike plastiek-produkte en verpakking herwin word.

5.    Kom ons hou ons omgewing vry van plastiek. Hou altyd ‘n sak/houer naby vir die plastiek wat ons toevallig langs die pad raakloop.

6.    Begin of raak betrokke by ‘n bewusmakingsaksie in jou gemeenskap om mense op te voed en te leer om verantwoordelik met afval (veral plastiek) te werk. (https://binged.it/2peEHxQ)

7.    Maak seker dat jul plaaslike munisipaliteit ordentlike herwinningsprogramme het.

8.    Wat van jul eie gemeentelike herwinningsprogram?

 

David P Botha
dpbotha2@gmail.com