Die Voëlvleidam

Die laaste reëns wat Voëlvleidam se vlak van 81.1% tot 92.4% laat klim het, het nie eers die nuus gehaal nie. Ons hier teen Ontongskop (Nuwekloof) het in vier dae se tyd (17 tot 20 September) 60 mm reën gehad. Die kanaal Voëlvleidam toe wat by Gouda verby loop, het kant en wal gevloei (die hoogste vlak sover).

Kaapstad se dreigende Dag Zero het ons ‘n paar maande gelede erg benoud gehad. Niemand het voorsien dat ons so ‘n geseënde winter gaan hê nie. Niemand kon ook nie. Die weer is nie meer so lekker en maklik voorspelbaar nie. Dit maak al die reën ‘n louter verrassing en ervaring van genade (soos dit natuurlik altyd is). Goedheid is oor ons uitgegiet. En waar louter goedheid is, is God altyd betrokke. Goedheid is eintlik ‘n ander naam vir God.

Dit is ook louter vreugde om die statistiek van die Wes-Kaap se damwatervlakke te lees. Die jongste inligting  is hier beskikbaar: http://www.elsenburg.com/agri-tools/western-cape-dam-levels. Nie al die damwatervlakke is ewe mooi nie. Hopelik sal die 12 damme – meer binneland in – wat minder as 25% vol is nog hul kwota reën-seën ontvang.

Feit is: ons is alreeds oorvloedig geseën! Die Voëlvleidam was verlede jaar hierdie tyd net 27.4% vol.

Dit is tyd vir dankie sê. En die beste manier om dankie te sê, dink ek, is om eerstens, voort te gaan om water bewustelik spaarsamig en met waardering, respek en liefde – dus biddend – te gebruik en tweedens, om God se liefde met oorgawe aan te gee vir mens, dier, plant en grond.

David P Botha
dpbotha2@gmail.com