Perspektief is om verskillende redes baie belangrik. Een van die redes is, omdat dit ons help om ons plek te vind in die groter werklikheid waarvan ons deel is. Die perspektief wat dikwels (dalk meestal) ons as mense se kyk na die wêreld rondom ons oorheers, is dat die aarde die sentrum van die heelal is en dat die mens die sentrum van die aarde is. Ons verstaan graag onsself en ons omgewing (gesin, familie, groep, party, ens.) as die middelpunt van alles. Hierdie perspektief lei daartoe dat ons alle ander dinge wat bestaan, beskou as in diens van ons eie/groeps- (klein) belange.

Hierdie perspektief het ‘n onverstaanbare uithouvermoë en houvas op ons. Nicolaus Copernicus het reeds in 1543 aangetoon dat die aarde nie die sentrum van die heelal is nie, maar die son. Aristarchus van Samos het dit egter al 18 eeue voor Copernicus gesê. Aristarchus en Copernicus was albei reg en ook verkeerd. Hulle was reg dat die aarde nie die sentrum van die heelal is nie, maar verkeerd in hul bewering dat die son die sentrum is. Sedert 1543 het ons kennis van die heelal geweldig gegroei. Ons het op die oomblik ruimtetuie wat op die rand van ons sonnestelsel verkenning doen van die heelal. En die inlgting wat ons van die groot ruimteteleskope ontvang het, bewys dat ons son definitief ook nie die sentrum van die heelal is nie. Ons sonnestelsel maak deel uit van die melkweg-galaksie wat maar een van miljoene galaksies is. Die heelal is groot – baie, baie GROOOOT. En die aarde en nog minder die mens is die sentrum daarvan. Dit is nou soos hulle sê, ‘n feit soos ‘n koei. Om dus te leef asof die aarde en die mens in die sentrum is, is om in ‘n leuen te leef. Terloops: dit is hierdie leuen wat grootliks daarvoor verantwoordelik is dat die mens lewe op aarde so verniel het en bedreig. Waarom is dit dan so dat die meeste mense leef asof die mens in die sentrum is?

Sielkundiges sal antwoord dat dit verband hou met die feit dat baie (dalk die meeste) mense nooit regtig groot word nie. Hulle ontwikkeling het gestagneer. Dit is heel normaal dat ‘n baba en kleuter dink dat hulle die middelpunt van die heelal is, maar as ‘n mens steeds so dink en leef as jy 40 jaar oud is, is daar groot fout. Dit beteken dat so iemand bly vassteek het in die kleuterfase van ontwikkeling.

Die Bybel sê dat hierdie lewenshouding groei uit die sonde van hoogmoed. En volgens Genesis se skeppingsverhaal was dit die grond sonde wat Adam en Eva begaan het, nl dat hulle ”soos God wou wees”. En dit is die belangrike ding wat die Bybel ons leer: God is die sentrum van die heelal. “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge”, bely Paulus (Rom 11:36). En Bonaventure, die bekende Fransiskaanse teoloog, sê dat die sentrum van die siel ook die sentrum van die heelal is, omdat Jesus Christus daar woon. En Thomas Merton sê dat God die sentrum is wat oral is en tog geen begrensing het nie.

Daar is twee dissiplines wat ons kan help om vry te kom van die leuen dat ons in die sentrum van alles is, nl ‘n gesonde kennis van die kosmos (kosmologie) en ‘n lewe van kontemplasie (wat ons by die mistieke tradisie in die kerk leer). Volgende keer kyk ons verder na hierdie twee tradisies.

Willie Koorts,  verbonde aan die SAAO (Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium), vertel dat hy vasgestel het dat Mev Ferguson, een van die eerste twee dosente aan die skool vir dogters wat Andrew Murray op Wellington begin het en later die Hugenote Kollege sou word, ‘n kranige sterrekundige was en dat sy van die begin af sterrekunde deel van die leerplan vir haar studente gemaak het. Daar was selfs ‘n teleskoop op die skoolgronde opgerig. Sy storie is hier te lees: http://www.saao.ac.za/~wpk/tov1882/oorgang.html.

Dit laat my wonder: As astronomie (sterrekunde) in die 1880’s deel kon uitmaak van die opleiding van jong dogters wat maatskaplike werkers sou word, waarom kan dit nie weer deel word van Hugenote Kollege en Stellenbosch se teologiese opleiding nie? En wat van die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit se spiritualiteitsvorming?

Vrede vir julle en julle omgewings.

David P Botha
dpbotha2@gmail.com