In die heelal is alles tegelyk groot én klein. Ons moet ‘n goeie begrip van albei hê en albei vashou om ons bydrae as mense te kan maak.

Van die lekker herinneringe wat ek uit my kinderdae het en ook later saam met my kinders gehad het, is ons besoeke aan die planetarium in Kaapstad. ‘n Toer deur die hemelruim bring perspektief. ‘n Perspektief wat jou vul met verwondering. En wat jou help om ‘n beter begrip te hê van jou plek in die groter werklikheid waarvan jy deel is. Meesal help sulke ervarings ook vir die kweek van ‘n nederiger ingesteldheid, omdat dit jou help om te weet dat jy nie die sentrum van die heelal is nie. Voor ‘n mens die kapasiteit het om iets van jou unieke waarde (grootheid) in te sien, is dit nodig om eers diep onder die indruk te kom van jou kleinheid/geringheid. Grootsheid moet in nederigheid vasgehou word, anders word dit waan en hoogmoed. En ons grootheidswaan en hoogmoed het oor die laaste paar eeue geweldige skade aan die natuur en daarom ook aan onsself aangerig.

Een van die diep geestelike ervarings wat ek as jong seun gehad het, het só gebeur: Pa het graag ons huis met boeke gevul. Een van die reekse wat hy aangekoop het, was die Life-reeks wat, as ek reg onthou, deur Readers Digest uitgegee is. Ek het op die spesifieke dag die eksemplaar wat oor die “Universe” handel van die rak afgehaal. Hierdie keer het ek nie net foto’s gekyk nie, maar ook met aandag gelees.  Vir die eerste keer het ek ‘n idee gekry van die sonnestelsel waarvan my lewe deel is. Wat my spesifiek aangegryp het, was die samestelling van ons sonnestelsel en die geweldige groot deel wat die son in die stelsel uitmaak en hoe gering en klein die aarde se bydrae is. Die son verteenwoordig 99.86% van ons sonnestelsel en die agt planete saam die oorblywende 0.14%. En die aarde se bydrae tot hierdie 0.14% is gering. Ek het onder die indruk gekom van hoe klein die aarde is. Die Gees het my laat nadink oor my eie plek en bydrae tot hierdie klein planetjie. Dit was asof ek vanaf die son kyk na ons planeet en myself. Vir die eerste keer het ek besef hoe klein ek letterlik is. En skielik het ‘n nuwe dimensie vir my oopgegaan op God se liefde vir my. My hart was gevul met dankbaarheid en liefde. (Gebruik gerus hierdie skakel om u kennis oor ons sonnestelsel uit te brei: https://space-facts.com/solar-system/.)

Sedertdien het ek heelwat meer oor die heelal geleer. Iemand het vir my ‘n teleskoop present gegee. Daarmee kon ek vir Jupiter en sy mane bestudeer en Saturnus se ringe sien. My “ontdekking” van Omega Centauri was ‘n buitenbgewone ervaring. Dit kos ‘n bietjie soek en mooi mik met die teleskoop, maar wat ‘n ontdekking is dit nie. Omega Centauri is net-net met die blote oog sigbaar – as ‘n newel/wolk – in die omgewing van die Suider-kruis. In die teleskoop is dit egter ‘n ontploffing van sterre – 1 miljoen van hulle! My kleinkind se reaksie toe sy dit die eerste keer deur die teleskoop sien, was: “Awesome!” In die laaste paar jaar het die Hubble-teleskoop ook ons kennis van die ruimte laat ontplof.  Onlangse foto’s wat Hubble geneem het, dui daarop dat daar ongeveer 2 triljoen galaksies in die heelal bestaan en dat party van hulle 13.2 biljoen jaar oud is. Sjoe! Die syfers is bokant my begrip. Dit sit my behoorlik op my plek.

‘n Mens het egter nie ‘n planetarium of ‘n teleskoop nodig om onder die indruk te kom van die grootsheid van die heelal nie. ‘n Mens se eie oë is genoeg. Gereelde opkyk in die aand met aandag, kan dit ook doen. Ons op die platteland is bevoorreg met ‘n oop en skoon hemelruim. Internetwebtuistes, rekenaarprogramme en slimfoontoepassings maak dit egter vir baie mense moontlik om dadelik en enige tyd toegang te hê tot die inligting wat die ruimtewetenskappe (bv. kosmologie en sterrekunde) al versamel het.

Dit is een van die dae weer Adventstyd en Kersfees. Die bestudering van die sterre het wyse manne uit die Ooste gehelp om die Christus-kind en Skepper van die heelal te vind in die stal van Betlehem. Dalk kan ons eie bestudering van die sterre en die hemelruim ons ook help om die Skepper en Verlosser van die heelal in die “stalle” (plekke van broosheid, eenvoud en geringheid) van ons lewens, dorpies, gemeenskappe en die natuur te vind.

Voorstelle:

  • Lees en bepeins Pss 8, 19 en 104 terwyl jy in die aand onder die oop hemel sit/staan/lê. (Eintlik behoort ons sulke Bybeltekste altyd in die natuur te lees. Ons huise en kerkgeboue is te toe en te vol van ons eie handewerk.)
  • Wat van eredienste/kategese onder die sterre, met ‘n sterrekundige as gids?

David P Botha
dpbotha2@gmail.com