Ons as menslike spesie het ons plek in die ekologiese huis waarin ons leef, verloor.  Ons weet nie waar en hoe ons pas nie. Wanneer ons egter vir God vind, vind ons ons plek in die een web van die lewe hier op die aarde en in die groot heelal, want die vind van God is tegelyk ook die vind van myself en die res van God se skepping.

Eintlik is dit nie ons wat vir God vind nie. Dit is God wat vir ons vind. Nie alleen het ons ons plek in die familie van die een web van die lewe verloor/verlaat nie, ons het ook die vermoë om ons pad terug te vind, verloor. Die Bybelse boodskap is goeie nuus (evangelie), omdat dit vir ons verlore en verdwaalde mense vertel dat God na ons toe gekom het om ons terug te bring huis toe (vgl. Luk 15). Ons huis is nie in die eerste plek ‘n geografiese plek iewers in die ruimte van die heelal nie. God is self ons huis. Hulle wat vir God toelaat om hulle te vind, het klaar tuis gekom – ook hier op die aarde! Hulle kom nie eers tuis na die dood nie. Die dood beteken wel die opheffing van ons aardse beperkinge op ons belewenis van ons bestaan in God.

Maar eintlik is dit ook nie reg om te sê dat dit God is wat vir ons vind nie, want God het ons nog nooit verloor nie. Dit is ons wat vir God verloor het. Ons het egter nie vir God verloor soos ‘n mens ‘n besitting verloor nie. Ons het vir God verloor, omdat ons die vermoë om vir God sintuiglik en geestelik waar te neem en te beleef, verloor het. Daarom bly ons op soek na God. Ons eie pogings bly egter altyd onsuksesvol. En ons belewenis bly een van vervreemding (seperateness): ek is hier en God is daar. Vervreemding is egter ‘n leuen. Die waarheid is dat ons fundamenteel een is met God en met die res van God se skepping.

Volgens Paulus is God heeltyd en in alles in en rondom ons. In Hand 17:27b-28 sê hy dit só:
            Hy is nie ver van enigeen van ons af nie,
            want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.

Ons verlorenheid sit daarin dat ons hiervan onbewus is. Ons is soos visse wat in die water leef, onbewus van die water; of soos voëls wat in die lug vlieg, maar onbewus van die lug. Ons leef dus in ‘n toestand van bewusteloosheid. God kom maak ons wakker uit ons bewusteloosheid. Hierdie wakker word, is ‘n ontdekkingsreis. Dit is ‘n reis waarop ek al meer en meer oopgaan teenoor en vir God. Die Gees van God oriënteer my al meer en meer op God. Die Gees open my oë (geestelik én fisies) om vir God raak te sien in die mens, Jesus van Nasaret. Maar die Gees gaan nog verder. Ek leer om nie net vir God in Jesus raak te sien nie, maar om ook vir Jesus in elke mens (ook myself) en in alles wat God gemaak het raak te sien. En só word elke ontmoeting wat ek het (met grond, elemente, mense, plante en diere), ‘n ontmoeting met God. En só leer ek om God oral en in alles raak te sien. En só word my ervaring van vervreemding en apartheid vervang met die ervaring van gemeenskap en eenheid – want in God is alles een en heel. En só word ons weer heel.

Henri Nouwen* herinner ons daaraan dat hierdie die waarheid is waarin die groot mistici oor die eeue ons probeer inlyf het. Hulle eie kennis hiervan het hulle nie ontwikkel deur intellektuele argumente nie. Hulle het dit ontvang, terwyl hulle kontemplatiewe gebed beoefen het. Kontemplatiewe (gefokusde aandag) gebed is ‘n lewenshouding van wakker teenwoordigheid, waarin die fokus/aandag val op oorgawe en op ontvang en op luister en op oopgaan vir die verrassende en onverwagse koms van God na my in ALLES.

God kom lê tussen ons as ‘n mens in ‘n krip in ‘n stal buitekant Betlehem en hang aan ‘n kruis buitekant Jerusalem, sodat ons kan leer om te sien hoe God oral tussen ons en in die natuur/skepping “rondlê” – veral in hulle en in plekke en in dit wat broos is en ly en bedreig word.

Bread for the Journey: Reflections for every day of the year, p 382.

Vrede vir julle en julle omgewings.

David P Botha
dpbotha2@gmail.com