Kom ons deel klein kersgeskenkies uit vir moeder natuur. Dit is nie ‘n opsie nie, dit is ‘n noodsaak! Aardverwarming is ‘n feit. Die vernietigende effek wat dit op natuurlike siklusse het en ook op die voortbestaan van die armes van die aarde (ook mense), is ook ‘n feit. (Lees gerus ‘n eenvoudige weergawe van die bevindinge van wetenskaplikes hieroor in die nuutste IPCC-verslag by http://thegreentimes.co.za/only-12-years-to-avert-2-degrees-of-global-warming/).

Groot ingrype en offers is nodig om ons van ‘n groot ramp te red. Die soort ingrype en offers wat net regerings op ‘n groot genoeg skaal kan doen. Ons eie regering sal byvoorbeeld o.a. moet ophou om krag met steenkool op te wek. Die verslag voorsien dat ons net 12 jaar oor het om die nodige te doen om te verhoed dat die aarde se hitte met meer as 2 grade styg. Maar om vir regerings te wag en te sit en kyk hoe hulle sukkel om die politieke wil bymekaar te maak, is nie baie produktief nie. Só ‘n houding sal ons ook medepligtiges maak in die mensgemaakte katastrofe wat ons sal tref indien die regerings van die wêreld nie doen wat nodig is nie.

Die mensgemaakte bydrae tot ons dreigende krisis is die gevolge van te min liefde – God se soort liefde. Die liefde wat die hele skepping in die hart dra. Die liefde wat ter wille van die groter welsyn omgee vir die mees brose en swakkes in die skepping. Binne enkele dae gaan ons as Christene weer rondom die krip in Betlehem vergader en sien hoe die Grootste in die skepping ‘n Dienskneg word ter wille van “vrede op aarde”. As daar een iemand is wat ‘n groot ding kon doen om wat verkeerd is op die aarde reg te maak, dan is dit God – die Skepper self. God kies egter die gestalte van ‘n baba, in ‘n stal, in ‘n krip, buite ‘n klein dorpie as deel van ‘n klein volkie. Alles aan die koms van God in die gestalte van ‘n mens is klein. Dit was ook die kenmerk van die res van God se lewe in Jesus. Selfs in Getsémane kies hy om nie die legioen engele tot sy beskikking of vir Petrus te gebruik nie, maar om die stryd wat uiteindelik sy lewe sou neem alleen aan te durf. Niks aan Jesus se geboorte of dood beïndruk die skares nie. En tog het sy lewe van ‘n klein begin met sy tragiese (onindrukwekkende) dood ‘n GROOT uiteinde – die triomf van die lewe (die opstanding!) Die Vader/Moeder en die Gees kom tot die hulp van die Seun, omdat die Seun uit liefde homself offer.

Miskien is Alice Walker reg as sy sê:

Helped are those who find the courage to do at least one small thing each day to help the existence of another – plant, animal, river, human being. They shall be joined by a multitude of the timid.*

Voorstel:

  • Wees kreatief in die beplanning van julle kersgeskenke (as julle nog die tradisie het). Gee vanjaar “klein” geskenke vir brose plekke of vorme van lewe in julle omgewing – soos wat Alice Walker voorstel.
  • Identifiseer broos plekke of vorme van lewe naby julle en gaan doen “one small thing” om lewe daar te ondersteun.
  • Betrek die kinders. Laat hulle kies wat hulle graag sal wil gee. Bv.: water gee in die tuin; skoonmaak van ‘n troeteldier se hok; ‘n lekker borsel vir julle kat of hond; ‘n kospakkie afgee by die plaaslike DBV; ens…
  • Hou julle Kersfeesbyeenkomste eenvoudig en vol liefde – in die styl van Jesus se geboorte.

‘n Baie geseënde Kersfees vir julle en julle omgewings.

David P Botha

dpbotha2@gmail.com

* “The Gospel According to Shug,” The Temple of My Familiar (New York: Simon and Schuster, 1989)