Kairostyd is krisistyd. Dit is ‘n tyd vir die afkondiging van ‘n noodtoestand. Dit is ‘n tyd wat gelaai is met dringendheid. Dit is nie ‘n tyd vir praat nie, maar vir DOEN. Dit is beslissende tyd. Ons optrede in kairostye het ‘n intenser bepalende invloed op die toekoms as ander tye.

Klimaatwetenskaplikes waarsku ons al lankal oor die impak wat die mens se lewenswyse op die klimaat het. Elke jaar ontdek hulle dat hulle in hul voorspellings te konserwatief was. Die spoed van klimaatsverandering is vinniger as wat hul verwag het en die impak daarvan op die natuur is ook dramaties groter as wat hul gereken het. Daarom dat hulle nou ernstig waarsku en sê dat ons net tot 2030 het om dalk nog daarin te slaag om die aarde se verwarming tot 1.5°C te beperk. Maar dan moet ons op groot skaal en in groot getalle die regte dinge doen. Ons moet eenvoudig ons koolstofvoetspoor kleiner maak – drasties kleiner maak! Ons moet!

Die Christelike geloofsgemeenskap, wat leef van die goeie nuus dat God in liefde alles gemaak het (Gen 1en 2) en onderhou (Ps 104:27-28) en red (Joh 3:16) is ook gestuurdes om hierdie evangelie sigbaar uit te leef teen ons verbruikerskultuur in. Ons moet ‘n voorbeeld stel in hierdie wêreld. En die voorbeeld begin by ons leiers.

My waarneming is egter dat die ekologie en ekologiese vraagstukke glad nie in die sentrum van ons kerklike lewe is nie. Ander sake oorheers ons agendas. Ekologie kry hoogstens af en toe aandag as ‘n onvermydelike rooilig wat af en toe in ons gesigsveld kom en ons aandag vir ‘n oomblik vang. Ons identifiseer sake soos menswaardigheid, missionale gemeentewees en vroeëkindontwikkeling, Gereformeerde spiritualiteit, kerkplanting, ens. (almal in eie reg verdienstelike sake) en fokus ons aandag, energie en bronne daarop. En ekologie? Klimaatsverandering? Die impak daarvan? Die kerk fouteer meestal nie deur soms met onbelangrike dinge besig te wees nie, maar wel deur nie te kan onderskei wat op ‘n spesifieke tyd (kairos) prioriteit is nie.

Ons gee dalk aandag aan ekologie by spesiale konferensies (af en toe en wat swak bygewoon word), in akademiese opleiding en op sinodale vergaderings en kommissies, maar in gemeentes waar dit in die hart van die gemeentelike bediening behoort te wees, is dit meesal totaal buite sig en van die radar af. Of dit kry hoogstens op die kantlyn aandag.

Sal ‘n dokter wat aan ‘n pasiënt se been opereer rustig met die beenoperasie voortgaan as sy pasiënt skielik ‘n hartaanval kry? Of sal hy die been los en al sy aandag aan die pasiënt se hart gee? Wat is ‘n been sonder ‘n lewende liggaam? Klimaatsverandering is nie ‘n verkoue nie – dit is ‘n hartaanval. Dit bedreig lewe op aarde – ook die mens s’n.

Luister asseblief eers na die sestienjarige Greta Thunberg by https://youtu.be/M7dVF9xylaw en lees dan verder.

Voorstel:

  1. Kom ons stem eerstens saam dat klimaatsverandering ‘n lewensbedreigende en dringende krisis is.
  2. Kom ons stem ook saam dat Christus, die hoof van die skepping en die kerk (Kol 1:15-20) ons roep om dringend hieraan aandag te gee.
  3. Dan moet die leierskap in ons kerk die voorbeeld stel deur hierdie saak as dringend te hanteer.
  4. Die moderature moet dringend seker maak dat die VGK/NGK vasstel hoe groot ons kerk se koolstofvoetspoor is. Vra die saakgelastigdes van die kerk om saam ‘n koolstofoudit vir die kerk te doen. Daar is verskeie hulpmiddels hiervoor op die internet beskikbaar. Safcei kan ook prakties hiermee help. Kyk by https://safcei.org/knowledge-base/eco-audit-user-guide/.
  5. Stel duidelike besparingsdoelwitte vir die sinodale strukture en amptenare vas. Implementeer en moniteer dit.
  6. Maak die bronne beskikbaar wat nodig is om hierdie inisiatief te befonds en uitvoerbaar te maak.
  7. Doen dit alles met ‘n dringendheid en met deeglike kommunikering en rapportering deur die kerklike media.
  8. Gemeentes moenie vir sinodale leierskap wag nie; doen julle eie oudit as julle daarvoor gereed is.

Vrede vir Christus se aarde en ons huis.

David P Botha
dpbotha2@gmail.com