Cecilia Burger (links) en Jeanie de Wet (regs)

 

Dit is met groot opgewondendheid dat ons vir Jeanie de Wet verwelkom by Simcha Bediening onder die Jode in die plek van Cecilia Burger wat verlede jaar afgetree het.

Jeanie het vier jaar gelede (2015) by haar oupa De Wet op Stellenbosch gekuier toe sy ‘n Getuie, nuusbrief van Getuienisaksie, by hom kry wat hy in Stellenbosch Moederkerk ontvang het. Op daardie stadium het sy die begeerte gehad om met ‘n gebedsgroepie van jongmense na Kaapstad te kom om te kom bid vir die Joodse gemeenskap hier en ook vir hulle blootstelling  aan die Joodse gemeenskap hier te gee. Die probleem was egter dat sy geen kontak met mense wat met die Joodse gemeenskap werk, geken het nie. Die artikel oor Simcha in die Getuie met Cecilia Burger se kontakbesonderhede was haar oplossing! Toe haar ouma Jeanette Botha (voorheen betrokke by ons susterskerk in Mosambiek) boonop laat weet sy ken vir Cecilia Burger, was die koeël deur die kerk!

Jeanie het met Cecilia ‘n afspraak gemaak en onmiddellik besef dat sy ‘n wonderlike netwerk via Cecilia na die Joods gemeenskap kon hê. Op uitnodiging van Cecilia het Jeanie toe vir twee weke by Cecilia in Kaapstad kom bly en sodoende waardevolle blootstelling aan die Mesiaanse Jode gekry. Sy het ook ander bedieninge onder die Jode leer ken in hierdie tyd.

Terwyl sy in Riversdal by ‘n gemeente op besoek was, het sy met hulle haar droom gedeel waarna ‘n groep jongmense saam met haar na Kaapstad is om die Simcha Bediening onder die Jode eerstehands te gaan ervaar.

In hierdie tyd het Jeanie tussen Suid-Afrika, Israel en Mosambiek beweeg, wetende dat die Here haar roep om met Jode te werk, maar onseker waar en hoe. In 2017 het Cecilia haar gekontak oor die moontlikheid dat Jeanie dalk sal kan oorneem nadat sy in 2018 gaan aftree. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat sy aan die begin van vanjaar in Cecilia se pos aangestel is.

Jeanie se begrip vir die Jode het begin toe sy as klein dogtertjie (toe 3 jaar) saam met hul gesin en haar oupa, Pieter Botha, na Israel op ‘n toer is. In 2004 (Jeanie was toe 10) is sy weer na Israel saam met hul gesin, en sedertdien elke jaar tot nou! Sy gaan dan op toere gelei deur Messianse Jode (Jode wat in Christus glo, maar steeds hul Joodsheid vier).  Op hierdie manier het sy blootstelling gekry aan gelowiges in Israel en ervaar dat die Here dit vir haar baie persoonlik kom maak het oor hoe Hy oor Israel voel. Jeanie glo dat as jy as gelowige Israel besoek, jy gelowige Jode en Christen Arabiere ook moet besoek.

Die meeste begrip wat sy vir Israeli’s gekry het, hetsy Jood of Arabier, was toe sy daar vrywillige werk gaan doen het en ook by ‘n Messianse jeuggroep ingeskakel het. Sy het ook later by Joseph’s Store House wat klere, kos, ens. via die welsyn aan mense in nood voorsien, aangesluit. Hierdie blootstelling was nie altyd maklik nie, maar dit was broodnodige ervaring om haar voor te berei om die Joodse gemeenskap beter te kon begryp hier in Kaapstad.

Sy beskou haar werk hier in Kaapstad om aan die Joodse gemeenskap vriendskap te bied van haar as ‘n nie-Joodse persoon. “Hulle moet ervaar ons is hulle vriende en hulle moet daardeur ook vir Jesus kan ontmoet.” Jeanie sal ook graag wil voortgaan om aan Jode wat die Here aanneem ‘n veilige ruimte te bied.

Kontak Jeanie de Wet by simchaministry@gmail.com vir meer inligting.