Oom Kobus Thom saam met sy vrou van 61 jaar, Mary, wat in 2014 oorlede is.

 

Met medelye: Jacobus Daniël Thom
15.02.1929 – 07.04.2019

Dis met groot hartseer dat ons afskeid neem van oom Kobus Thom, voorheen Buitelandse Sendingsekretaris van die Wes-Kaapse Sinode, en later PSD Sending en Evangelisasie. Hy is op Sondag 7 April in die ouderdom van 90 jaar oorlede.

Oom Kobus is in Joubertina in die Langkloof gebore, en het die grootste deel van sy kinderjare in George grootgeword, waar hy op 16-jarige ouderdom aan die Hoërskool Outeniqua gematrikuleer het.

Ná skool is hy Stellenbosch toe, eers vir BA (Admissie) waarna hy sy Lisensiaat aan die Kweekskool verwerf en later van jare ook ‘n MTh in Sendingwetenskap .

Sy eerste gemeente was te Glen Lynden (Bedford) in die Oos-Kaap (1953). In 1959 is hy na Strand-Noord en in 1964 word hy sendeling-predikant in die Transkei, by Rietvlei. Daarna is hy na George Moedergemeente (1969) en daarvandaan na Goodwood-Park (1974). Hy word in 1980 Buitelandse Sendingsekretaris van die Wes-Kaapse Sinode, en in 1987 PSD Sending en Evangelisasie. Hy emeriteer in 1993.

Hy is in 1953 getroud met Mary Dorothy Combrinck; ‘n huwelik wat 61 geseënde jare geduur het, tot met haar afsterwe in 2014. Vyf kinders is uit die huwelik gebore: Johan (professor in Grieks by US), Wouter (afgetrede aktuaris van Sanlam), Jaco (predikant in Petrusburg), Charlotte Koegelenberg (predikantsvrou in De Doorns) en Heleen Meyer (sielkundige in Durbanville). Hulle het dertien kleinkinders en vier agterkleinkinders.

Ná sy aftrede het oom Kobus-hulle verhuis na Sedgefield, waar hulle jare lank ‘n strandhuis gehad het. Toe tannie Mary se gesondheid begin ingee, het hulle na Serenitas in die Strand geskuif. Daar het hulle aanvanklik in ‘n woonstel gebly, maar later na die siekeboeg geskuif toe hy die gebruik van sy bene verloor het.

Jaco beskryf sy pa: “My pa was ‘n sagte, innemende man: Godsman, gesinsmens, baie lief vir sy vrou. Haar dood was vir hom ’n verpletterende slag. Hy het ‘n passie vir die sending gehad, sy lewe lank. Sy jare in die Transkei was van sy gelukkigste. Baie getuig van die besondere rol wat hy in hulle lewens en geloof gespeel het, en dat sy raad en leiding as mentor vir hulle onskatbaar waardevol was.

‘n Troosdiens is gehou op Woensdag 10 April in Serenitas in die Strand.

Kontak Jaco Thom by jaco@bybelkoerant.co.za