Ps 148 is die Psalm van die RCL (Common Revised Lectionary/Leesrooster) vir hierdie week. Nadat ek dié Psalm Sondagoggend gelees het, oorval ‘n diep hartseer my. Ek het saam met 28 junior leerders van drie omliggende skole verlede Saterdag geluister na hoe Waterval Natuurbewaring se veldwagters by Voëlvleidam vir ons vertel van die groot gevaar waarin die suurpootskilpadspesie is. Daar is minder as 5 000 van hulle in die natuur oor. En daar is mense wat geoordeel het dat die kans groot is dat hulle teen 2020 heeltemal uitgesterf sal wees. Gelukkig lyk dit of 2020 bietjie vroeg is, maar as ons nie dringend iets doen nie, is hul uitwissing seker en gewis!

In Psalm 148 roep die gelowige die ganse skepping op om deel te neem aan ‘n loflied aan God. Eers word die hemel uitgenooi (vers 1-6) en dan die aarde (vers 7-13). In vers 10 word spesifiek  “die wilde diere en al die vee, diere wat kruip en voëls wat vlieg” geroep om saam hierdie loflied te sing. En die suurpootjie is een van die “kruipendes”. Maar soos baie ander spesies voor hulle, gaan hulle ook eendag nie meer daar wees om saam met my hierdie loflied te sing nie. Toe hierdie waarheid tot my deurdring, tref die hartseer my en word Ps 148 se “Halleluja!” verander in “Heer, wees ons genadig!”

Die feit dat die suurpootjie binnekort kan uitsterf, is direk die skuld van die mens. Ons het 90% van dié skilpaadjie se habitat vernietig. Die hele Wes-Kaap was lank gelede vol fynbos en renosterveld – die enigste omgewing waarin die suurpootjie voorkom en kan leef. Ons het egter hierdie omgewing omgeploeg vir koring- en wingerdboerderye en het stede ontwikkel, sodat daar vandag net 10% daarvan oor is. Die enigste drie omgewings waarin die suurpootjie nog voorkom, is in die Swartland,  Bo-Breederiviervallei en die Ceresvallei. Ongelukkig is die areas (habitat) waarin hulle nog voorkom dikwels klein en versprei. En dan is daar ook mense wat graag skilpaaie eet. En al is dit onwettig, doen mense dit nog steeds! Baie skilpaadjies is ook as troeteldiere die land uitgevoer en almal het waarskynlik gesterf, omdat hulle nie in gevangenisskap kan oorleef nie.

Die meeste skilpaaie kan tussen 80 en 150 jaar oud word. Hulle is ook al baie lank inwoners van die aarde. Hulle was al hier voor die dinosaurusse en het ook die krissis(se) wat die dinosaurusse uitgeroei het, oorleef. Dit lyk egter of die suurpootjie dit nie gaan regkry om die menslike spesie te oorleef nie. Hoe uiters tragies! Die spesie wat hulself die “kroon van die skepping” noem, en wat aangestel is as versorger en wat vir eeue al Ps 148 bid en sing, roei dieselfde spesies uit wat hul oproep om saam “Halleluja!” te sê. Kan dit waar wees?

Heer, wees ons genadig …

Heer, verander ons.

Voorstelle:

  • Hier is drie webskakels wat julle kan gebruik om meer oor die suurpootskilpad te lees en wat ons kan doen om hulle te beskerm:

http://www.wildlifelandtrust.org/wildlife/close-ups/tortoise-and-turtle.html

https://www.capenature.co.za/fauna-and-flora/geometric-tortoise/

https://www.thesouthafrican.com/opinion/die-tyd-loop-uit-vir-ou-suurpootjie/

  • Nooi iemand van Natuurbewaring om vir die gemeente/kategeseklas/sel/ens. in te lig oor die suurpootskilpad (of enige ander bedreigde spesie);
  • Vind by Natuurbewaring uit wat julle kan doen om te help om die suurpootjie te beskerm en beplan ‘n deurlopende gemeenteprojek om te help om dié skilpad van uitwissing te red.