Dit is God wat aan ons energie gee. Dit is o.a. die boodskap van Pinkster. Om die waarheid te sê, Johannes noem vir Jesus die Lig uit wie die wêreld ontstaan het en wat in Jesus mens geword het (Joh 1:1-11). En in Openbaring 21 vertel hy verder dat daar geen nodigheid vir ‘n son of maan in die nuwe Jerusalem is nie, omdat God se heerlikheid self die lig sal wees en die Lam (Jesus) haar lamp (v 23). God gee energie, want God is energie. Die Kelte verstaan dit. In hul oggendgebed vir Maandag se gebruik, bid hulle so:

                                    “U is die Kragbron uit wie alle energie vloei.

Alle energie in die skepping kom van God af. Dus ook die energie wat deur die elektriese drade na ons werkplekke, saamkomplekke en blyplekke vloei. En net soos wat ons moet leer om water met respek te behandel, so moet ons ook leer om energie met respek te behandel. Die meeste van ons het gewoond geword daaraan dat elektrisiteit net ‘n knoppie ver en altyd beskikbaar is. Daarom het ons lewensgewoontes aangeleer wat verklap dat ons dink dat elektrisiteit onbeperk en altyd ononderbroke beskikbaar is. En ons het verskriklik afhanklik van elektrisiteit geword. So afhanklik dat daar feitlik geen diens is wat daarsonder kan funksioneer nie. Sonder elektrisiteit sal alle stelsels in die wêreld in duie stort. Ons het ietsie hiervan ervaar tydens beurtkrag. Kobus Olckers, ‘n Suid-Afrikaner, wat vanuit Florida in Amerika die son bestudeer, en gereeld optree in RSG se Sondagaandprogram, “Sterre en Planete”, waarsku ons gereeld dat die son daartoe in staat is om met sy geweldige uitbarstings van energie ‘n totale “black out” te veroorsaak.

Net soos die afgelope droogte in groot dele van ons land ons geleer het om spaarsamig en met respek met water om te gaan, so kan beurtkrag en Eskom se gesukkel ons help om met meer respek en omsigtigheid met elektrisiteit om te gaan.

Verder is ook nie alle elektrisiteit skoon nie. Elektrisiteit is “vuil” as dit opgewek word uit bronne wat besoedeling veroorsaak en gevaarlik is vir lewe. Steenkool en kernkrag is byvoorbeeld twee bronne wat ons gebruik om elektrisiteit mee op te wek wat ons vuil moet noem. Die myn van steenkool en die verbranding daarvan stel gasse vry wat nie net aardverwarming aanhelp nie, maar ook geweldig baie gesondheidsprobleme vir mens en dier veroorsaak. Ons steenkoolkragstasies maak ons die grootste lugbesoedelaar in Afrika en van die voorstes in die wêreld. Lees meer by https://en.wikipedia.org/wiki/Environmental_impact_of_the_coal_industry. En kernreaktors veroorsaak weer kernafval wat hoogs gevaarlik is vir alle lewe. Die impak van die 33 ongelukke by kernreaktors sedert die eerste een in 1952 by Chalk River in Ontario, Kanada, getuig van die gevare wat die opwekking van kernkrag vir lewe inhou. Vir meer hieroor kan julle gaan kyk by https://www.theguardian.com/news/datablog/2011/mar/14/nuclear-power-plant-accidents-list-rank.

Skoon elektrisiteit is elektrisiteit wat opgewek word uit bronne wat geen besoedeling versoorsaak of gesondheidsgevare vir mens, dier en plant inhou nie. Kragopwekking deur windturbines en sonpanele is voorbeelde van skoon- en hernubare energie. Dit spreek dus vanself dat ons verplig is om te sorg dat ons net bronne vir opwekking van elektrisiteit gebruik wat skoon is.

Volgende keer praat ons oor hierdie bronne.

Vrede vir julle en jul omgewings.

David P Botha

dpbotha2@gmail.com