Skoon elektrisiteit word opgewek met hulpbronne en deur middel van metodes wat nie skadelik of nadelig is vir die omgewing nie. Vir inligting hieroor in die Suid-Afrikaanse konteks kan u die volgende skakel besoek: http://bit.ly/2WKUc2N Bo-aan die lys van hierdie hulpbronne is sonenergie. En omdat ons hiervan persoonlike ondervinding het, skryf ek hier daaroor.

Die tyd is regtig nou ryp vir gemeentes en individuele huishoudings om dit ernstig te oorweeg om sonenergie op te wek en te gebruik. Daar is ten minste ses redes waarom die tyd ryp is:

  • Die uurglas loop leeg.

Ons kan nie wag vir ons regering (nasionaal en provinsiaal) om van steenkool en kernkrag na volhoubare bronne oor te skakel nie. Die krisis op hande is daarvoor te groot en die tyd is te min. Ons kan hulle en die land help deur dit self te doen.

  • Die Liefde vra dit van ons.

Klimaatsverandering en aardverwarming bedreig die voortbestaan van baie spesies op moeder aarde – die mens s’n ingesluit. Mense wat nou sonkrag installeer, doen beslis ‘n liefdesdaad. Eskom se krag is nie net duur (in terme van geld) en onstabiel nie, dit dra ook geweldig by tot die vrystelling van koolstofdioksied in die atmosfeer en dus tot die probleem van klimaatsverandering. Sonenergie (of enige ander volhoubare energiebron) is dus ‘n belegging in die voortbestaan van lewe op aarde!

  • Dit maak finansieel sin.

Ons het in 2016 ‘n warmwatersilinder wat met sonenergie werk en ook ‘n omsetter met 4 sonpanele en agt batterye geïnstalleer wat ons afhanklikheid van Eskom drasties verminder het en ons elektrisiteitsrekening met 50% gesny het. Ons aanvanklike uitsetkoste wasR50 000. Indien ons gemiddelde rekening R1 000 per maand was, het ons egter R500 per maand gespaar. Wat beteken dat ons die afgelope drie jaar R18 000 gespaar het. Oor ‘n bietjie meer as nog 5 jaar dan het ons besparing op ons elektrisiteitsrekening dus die R50 000 afbetaal.

Dit het ook intussen goedkoper geword om sonkrag te installeer. Sedert 2016 het vier van die duurste items in ons sisteem 17.19% goedkoper geword – ten spyte van ‘n verswakte wisselkoers.

  • Dit dra by tot vrede en vreugde.

Wie sonenergie (en ander vorme van hernubare energie) installeer, word beloon met ‘n binne-vrede wat groei uit die wete dat jy ‘n goeie daad bewys het aan moeder aarde met al haar inwoners en aan toekomstige geslagte. Dade van vrede bring ook vrede. Dit gee ook vir ons diep vreugde om te weet dat ons die skoon energie van die son gebruik.

  • Ons leef meer elektrisiteitsbewus.

Vandat ons sonenergie gebruik, is ons baie meer ingestel op hoe ons daarmee werk. Ons kom met baie minder klaar en ons bestuur dit versigtig.

  • Dit kan help voorsien in die behoefte aan elektrisiteit vir almal.

Een van die wonderlike moontlikhede wat daar is, is dat privaat-besighede en huishoudings meer krag kan opwek as wat hulle self nodig het en dat hulle dit dan in die nasionale netwerk kan invoer. Daar is reeds energieplase in ons land wat die infrastruktuur in plek het om presies dit te doen. Wetgewing en rompslomp in die goedkeuringsprosesse maak dit egter nog moeilik om dit in werking te stel. Op hierdie manier kan elkeen van ons wat dit kan bekostig ons land help met die opwekking van genoeg skoon elektrisiteit.

Voorstelle:

  • Doen as gemeente ‘n energie-oudit. Dit sal julle help om te weet hoe julle elektrisiteitsverbruik is. Safcei (https://safcei.org/) het ‘n Eco-Audit-hulpmiddel opgestel wat gemeentes en huishoudings help om o.a. hul elektrisiteitsverbruik te oudit. Dit is beskikbaar by http://bit.ly/2Mv0xvo.
  • Doen navorsing oor wat dit vir julle sal kos om sonenergie vir julle elektrisiteitsbehoeftes te installeer.
  • Selfs al besluit julle om nie jul eie elektrisiteit op te wek nie, maak dan ten minste seker dat julle alles in jul vermoë doen om elektrisiteit te spaar. Julle kan hier kyk vir voorstelle: http://bit.ly/2wAkHcL.

Vrede vir julle en jul omgewing.

David P Botha
dpbotha2@gmail.com