Agter v.l.n.r.: Christo Wooding, Louise Koch (vrou van wyle ds Kobus Koch, sendeling), Christine Knipe of Gouwsie (verpleegster), Magda en Bennie Fourie (sendeling), dr. Hennie Pretorius(sendeling en dosent) en sy vrou, Elsa. Voor v.l.n.r.: Elra Krynauw (verpleegster), Alta van Zyl (tikster) en Kannetjie Kotzé (geestelike werkster).

 

Christo en Delesté Wooding van die VGK Kokstad deel met ons hierdie interessante nuus in hul jongste nuusbrief

Alta van Zyl kom in 1954 in die jeugsentrum in Pretoria tot bekering en word geroep om voltyds vir die Here te gaan werk. Na voltooiing van die een-jaar-sendingkurses by Hugenote Kollege, vertrek sy in 1958 na Transkei, om as tikster daar te gaan werk. Sy reis per skip vanaf Kaapstad na Oos-Londen, en verder per bus na Mthatha en Decoligny Sendingstasie. Sy het ook as tikster vir my pa gewerk, en het dikwels na ons as klein kindertjies gekyk wanneer ons ouers uit was.

Januarie 1959 vertrek die jonge Kannetjies Kotzé na Transkei om vir baie jare as geestelike werkster op Madwaleni, Decoligny en Zithulele sendingstasies te werk. Sy vertrek ook vanaf Kaapstad per boot na Oos-Londen, en vandaar heeldag lank per trein na Mthatha.

Met haar aankoms in Mthatha, is die sendingpersoneel aan die regmaak om na Port St Johns te vertrek vir die Xhosa-taalskool. Die taalskool is destyds gehou in die vakansieoord van die Ugie Weeshuis. Manne soos Dawid Bosch, Dirk Odendaal , Jannie du Preez, Jaap du Randt en Jasper Burden het daardie jare die taalskole aangebied, of bygewoon. Die sendingpersoneel moes met hul aankoms in Transkei die taalskole bywoon, en hoewel Xhosa ‘n baie moeilike taal is, het baie dit spoedig aangeleer om die mense van Transkei in hul eie taal te kon bereik.

Die paar sendingvoertuie, baie nog van die ou groot enkelkajuit Ford- en Chev-bakkies, word op Mthatha gelaai met voorraad en personeel. Die meer ervare personeel, wat die 100 km slegte en draaierige grondpad na Port St Johns ken, sorg dat hul voor sit. Die groentjie Kannetjie Kotzé moes maar agterop die oop bakkie tussen die bokse kruideniersware ry. Terwyl sy sukkel om op die hoë bakkie te klim, staan wyle prof. Dirk Odendaal die petalje so en kyk. En, terggees wat hy kon wees, sê hy laggend aan haar dat sy so sukkel om op die bakkie te klim omdat sy so mollig is. Nou ja, tannie Kannetjies het onlangs aan my vertel dat sy en Dirk Odendaal vir baie jare lekker in Transkei saamgewerk het, maar dat sy hom daardie stukkie nooit vergewe het nie!

En so is honderde jong manne en vroue destyds geroep om in die Transkei te gaan werk as dominees, dokters, verpleegsters, bouers, kantoorpersoneel, onderwysers en geestelike werksters. Omdat die vervoerstelsels in daardie jare nog nie so goed ontwikkeld was nie, was dit ‘n lang en moeisame reis na Transkei. En dikwels het dit geskied teen die wense van hulle familie in. Vir vele van hulle was dit ‘n lewenstaak, en is baie jare op afgeleë sendingstasies deurgebring.

Ons het onlangs die gemeentes van Welgemoed en Stellenberg besoek. Tydens besoeke aan die Kaap is dit altyd ‘n voorreg om van die afgetrede sendingpersoneel weer te sien. Ek het voor hul grootgeword en het baie by elkeen van hulle geleer.

V.l.n.r.: Willem en Annelie Botes, Delesté en Christo Wooding

Ds. Willem en Annelie Botes het Februarie 1976 in die Transkei begin werk, eers op Isilimela Sendingstasie en later op Decoligny. In 1983 het ons saam met Willem en Annelie op Isilimela begin werk. Dit was ‘n voorreg om hulle as mentors te kon gehad het aan die begin van ons bediening. Hulle is afgetree en woon in die Strand. (Op die foto staan Willem en Annelie links en ek en Deleste regs).

Dit is wonderlik dat die Here steeds mense na Transkei stuur. In my vorige nuusbrief het ek u vertel van die drie nuwe dominees wat na ons ring gekom het. Die komende vakansie verwag ons ‘n uitreikspan van Stellenberg en ‘n span van die gemeentes van Jeffreysbaai, Adelaide en Bedford wat by Bambisana/Lusikisiki gaan werk. Daar is ook ‘n uitreikspan van Kenridge Gemeente wat by Zithulele gaan werk. In September kom ‘n span van Onrusrivier na Kokstad. Daar is vandag weer heelwat mediese personeel werksaam in die ou sendinghospitale. Aanvanklik moet hulle hul diensjare vir die staat daar gaan doen. Baie bly langer, gedryf deur ‘n roeping om daardie arm gemeenskappe te help en so ook hul liefde vir Jesus uit te leef. Daar is van hulle wat dit as ‘n lewenstaak sien. Selfs vandag nog hoor mense die stem van God en gee hulself, hul geld, hul kosbare tyd in diens van die Koninkryk.

Weer eens ‘n groot dankie vir u gebede en ondersteuning.

Kontak Christo Wooding by wooding1@telkomsa.net.