Vyf redes waarom gemeentes betrokke behoort te raak by die bewaring van spesies

Die IUCN (International Union of Conservation of Nature) wat in 1964 gestig is, het al meer as 98 500 spesies van lewe op aarde nagevors. Op die oomblik is hul bevinding dat 28 000 van hierdie spesies (meer as 27%!) op die rand van uitsterwing is. Hulle stel ‘n Rooi Lys (https://www.iucnredlist.org/) bekend waarop al hierdie spesies vertoon word om daardeur te help met die beskerming van die biodiversiteit van lewe op aarde. ‘n Hele paar spesies wat op hierdie Rooi Lys verskyn, kom in Suid-Afrika voor (soos bv. die geometriese skilpad/Suurpootjie).

Is dit egter nodig om spesies wat bedreig word van uitsterwing te red? Is dit nie maar onvermydelik deel van die natuurlike prosesse op aarde dat spesies kom en gaan nie?

Ek het op vier goeie redes afgekom waarom ons die biodiversiteit op aarde moet beskerm en bewaar (volledige artikel is hier beskikbaar: http://bit.ly/2GqBIvh) Ek het ook ‘n vyfde rede bygevoeg.

  1. Spesies het medisinale waarde

Dit geld vir plant- én diere-spesies. Daar is legio voorbeelde van die gebruik van plant- en dier-materiaal vir die ontwikkeling van medikasie vir die behandeling van ernstige siektes wat mens en dier bedreig. (Ek gebruik byvoorbeeld graag medikasie met die ekstrak van echinacea-blomme in om my gesond deur die winter te kry.) Daar word daagliks navorsing gedoen op plante, diere en fungi om middels te ontwikkel wat kan help om ernstige siektes te bekamp. Dalk is die teenmiddel teen bestaande siektes of nuwes wat kan ontstaan, opgesluit in een van die 28 000 spesies wat nou op die Rooi Lys is!

  1. Spesies het landboukundige waarde

Een van die landboukundige waardes wat spesies het, is die natuurlike peskontrole wat in die natuur ingebou is. So hou slange en uile byvoorbeeld die knaagdierbevolking in toom wat in die landboubedryf groot skade kan aanrig. Hiervan is daar talle ander voorbeelde.

  1. Spesies het ekologiese waarde

Biodiversiteit vorm die een web van die lewe op aarde soos ons dit vandag ken. Alle spesies het ‘n unieke en onmisbare plek in hierdie een web van lewe. Die uitsterwing van een spesie kan volgens navorsers die uitsterwing van nog dertig ander spesies tot gevolg hê. En ons weet dat ‘n spinnekop se web totaal in duie stort as die spinnedrade een vir een breek. Dieselfde gebeur met die een web van die lewe. Dit beteken by implikasie dat die spesie homo sapiens uiteindelik self volledig afhanklik is van die voortbestaan van al die ander spesies op aarde. Hulle uitsterwing beteken noodwendig ook ons uitsterwing!

  1. Spesies het erfeniswaarde

Deur spesies te bewaar, maak ons seker dat ons nageslagte ook die voorreg het om hulle te kan sien en beleef.

5. Die Liefde van God

Ek dink daar is ten minste nog een ander rede ook waarom ons biodiversiteit moet beskerm. Dit is die rede wat die diepste motivering vir Christene behoort te wees: DIE LIEFDE. Ons is veronderstel om die spieëlbeeld van God te wees. Daarom behoort alle ander vorme van lewe op aarde in ons te sien en deur ons te ervaar dat God hulle liefhet. Daar is intrinsieke waardigheid in alles wat God gemaak het. Daarom is dit waardevol en behoort dit bewaar te word. Ons moet Jesus Christus (God) vir mekaar en vir die res van die skepping wees. So verstaan ek die evangelie.

Kon ons dit al regkry om spesies van uitsterwing te red? Hierdie webtuiste vertel 10 sulke verhale: http://bit.ly/2XYZXeQ. Een van dié verhale is die van die Brasiliaanse Goue Marmoset (sien foto). Hulle getalle het as gevolg van habitatverlies gedaal tot net 200 in 1981. Bewaringsinisiatiewe sedert 1980 was so suksesvol dat hulle aangeteel het tot 3 200.

Uitnodigings:

  1. Kan julle aan nog redes dink waarom ons spesies behoort te beskerm?
  2. Het julle gemeente al ‘n spesie aangeneem om dit te help keer van uitwissing?

Vrede vir julle en julle omgewings.

David P Botha
dpbotha2@gmail.com