Dit is absoluut belangrik dat ons as Christene sensitief moet word vir die impak wat ons eetgewoontes op die omgewing het en hoe dit bydra tot klimaatsverandering. Ek deel hier met julle iets van my eie verhaal:

My ondervinding is dat die meeste mense reken dat ‘n mens net ‘n vegetariër word om gesondheidsredes. Dit was egter nie by my (ons) die geval nie.

Dit het met Advent 1990 begin. Die preekstudies se tekste vir hierdie Advent het onder andere die vredesmetafoor van Jesaja 11:6-9 ingesluit. Jesaja het my uitgedaag om saam met hom te droom van ‘n aarde waarop alle verhoudings gekenmerk word deur vrede. Die Here het my veral aangespreek oor my persoonlike verhouding met die natuur. Die vraag wat uiteindelik my nadenke hieroor oorheers het, was die volgende: “Hoe weet die res van die skepping dat hulle nie vir my bang hoef te wees nie?” (Kyk gerus na hoe hierdie teks as’t ware Genesis 9:2-3 regmaak.)

Dit het vir my al dringender geword dat alles en almal wat saam met my op hierdie aarde leef by my as Christen veilig moes voel. Ek moes die een wees in wie se lewe iets tasbaars en konkreets sigbaar word van God se droom van vrede. Dit het onder andere ‘n gesprek oor ons huisgesin se dieet losgemaak. Met ons lees en praat het dit vir ons al duideliker geword dat ons ons dieet sal moet aanpas. Ek en Estelle het toe besluit om nie weer rooivleis aan te koop nie. Ons het daarna nog vir ‘n paar maande aangehou om witvleis en vis te eet.

Dit was egter nie net beeste en skape wat by ons veilig moes voel nie, maar alle diere. Geleidelik het ons daarom ook hoender en vis uit ons dieet gesny. Dit was vir sommige in ons gesin maklik om die aanpassing te maak, maar nie vir my nie! Ek kon my nie ‘n bord kos indink sonder vleis nie. En ek was so lief vir braai – en droë wors en biltong!

Ek het ons vegetariese dieet met entoesiasme aanvaar toe ek leer verstaan het dat ek daarmee vir beide myself en vir die omgewing ‘n guns bewys. Gaandeweg het ek ook opgehou om myself jammer te kry, omdat ek nie meer vleis eet nie.

Daar is ten minste twee redes waarom ek nog nooit spyt was oor die aanpassing in ons dieet nie:

  1. Ek is beloon met beter gesondheid. Baie van die spysverteringsprobleme waarmee ek van my kinderjare af saamgeleef het, was iets van die verlede.
  2. Die vrede in my verhouding met die natuur en myself het bly groei.
    • In die verlede wanneer ek agter ‘n trok met lewende hawe gery het wat op pad was slagpale toe, het ek altyd geweet ek is medeverantwoordelik vir dié diere se dood. Ek dra nie nou meer hierdie las nie.
    • Ek het al meer sensitief geword vir die ekologiese dimensies in die Bybel, totdat die ekologie die hooffokus van my bediening (lewe) geword het.
    • Ek het al meer bewus geword van die wreedhede in die massavervaardiging (factory farming) van vleiskos vir die mens en dat ek my bydrae moet maak om dit stop te sit.

Die vleisbedryf maak bv ‘n reuse-bydrae tot klimaatsverandering en die gebruik van skaars hulpbronne (soos bv water).

Hier is ‘n artikel wat ‘n klein kykie in hierdie bydrae gee: http://cases.open.ubc.ca/environmental-impact-of-meat-consumption/. Kyk gerus ook na die artikel in The Guardian wat die omvang en kompleksiteit van hierdie probleem beskryf: https://www.theguardian.com/news/2018/may/07/true-cost-of-eating-meat-environment-health-animal-welfare

In Amerika, die land wat globaal die tweede grootste verskaffer van beesvleis is en die meeste rooivleis in die wêreld opeet, het daar ‘n beweging ontstaan wat hulself The Humane Society noem. Hulle het ‘n pragtige projek begin wat hulle Eating mercifully noem. Ek vertel volgende keer meer hieroor.

Uitnodiging:

  • Sal jy dit oorweeg om jou dieet aan te pas ter wille van die positiewe uitwerking wat dit op die ekologie sal hê – m.a.w. ter wille van groter vrede?
  • Moenie oorhaastig hiermee wees nie. Jou hart en kop moet reg wees as jy op hierdie pad gaan. Aanpassings in dieet het altyd ‘n groot impak. ‘n Mens moet ‘n vrede en vreugde in jou hart hê – veral as jy jou gunsteling kos prysgee – anders gaan jy jouself aanmekaar jammer kry en kan jy dalk later sit met ‘n eetversteuring.
  • As jy egter gereed is vir ‘n aanpassing – doen dit dan. Dit sal definitief jou vrede meer maak. Begin klein. As jou liggaam oor jare gewoond daaraan is om vleis te verteer, gaan jou liggaam in skok as jy skielik net daarmee ophou.
  • Laat deernis jou begelei – deernis teenoor jouself en deernis teenoor die res van die skepping.

 

Vrede vir julle en jul omgewing.

David p Botha
dpbotha2@gmail.com