Ware profete is nooit gewilde mense nie. Vra maar vir Jeremia en vir Jesus van Nasaret. Sommige profete is egter tog wel gewild – soos byvoorbeeld Gananja. Jeremia voorspel dat die ballingskap onafwendbaar is en dat dit 70 jaar sal duur (Jer. 25). Gananja sê: “Die juk wat die koning van Babel julle gaan oplê, sal net twee jaar duur. En dan sal God, die Almagtige, almal en alles wat Nebukadnesar weggevoer het, terugbring”(Jer. 28). Ons verkies goeie nuus. As die nuus egter nie anders kan as om sleg te wees nie, verkies ons die boodskapper wat die slegte nuus so mooi en goed as moontlik aanbied. Daarom was Gananja gewilder as Jeremia. Ongelukkig was Gananja verkeerd. Die ballingskap was toe inderdaad 70 jaar lank. En al die ballinge wat vir Gananja geglo het, was nie gereed vir die 70 jaar nie en het geweldig gesukkel om in Babel aan te pas.

Daar is baie wetenskaplike ekologieprofete in die wêreld. Feitlik almal van hulle stem saam dat ‘n baie warm toekoms op ons wag. ‘n Toekoms wat selfs lewe soos ons dit vandag op aarde ken (ook ons eie) gaan uitwis as die kwik te hoog styg. Daar is Jeremias en Gananjas onder hulle. Daar is diegene wat onbeskroomd, soos Jeremia, die slegte “sewentigjaar-senario”-nuus as onvermydelik voor ons neersit. Hulle is baie ongewild. Ons verkies om liewer die Gananjas onder die wetenskaplikes te glo. Diegene wat die slegte nuus sagter en minder erg aanbied.

Die huidige president van Amerika sing voor in die koor van hulle onder ons wat verkies om nie na die Jeremias onder die wetenskaplikes te luister nie. Hy lei Amerika uit die Parys-ooreenkoms (http://bit.ly/2KiQ8Q1), die eerste globale en wetlik-bindende ooreenkoms oor klimaatsverandering.  Tog gaan dit nie met hulle wat nog deel van dié ooreenkoms is baie beter nie. Volgens die sekretaris-generaal van die VN, Antonio Guterres, is daar ‘n vreemde ding besig om te gebeur: Terwyl die tekens van klimaatsverandering hulle al helderder en duideliker aan ons opdring, is die politieke wil by die leiers van die wêreld om die resolusies van die Parys-ooreenkoms te implementeer, besig om te taan. Die laaste beraad oor klimaatsverandering wat die VN vanjaar in New York gehou het, was opnuut ‘n terleurstelling. Die wil om die daad by die woord te voeg, ontbreek steeds. Onverstaanbaar! Maar dalk nie so onverklaarbaar nie.

Hoekom ontbreek die politieke wil?

Ek reken dat deel van die antwoord op die vraag dieselfde is as die rede waarom ons as individue ook geneig is om nie die noodsaaklike veranderinge in ons persoonlike lewens te maak wat die krisis van ons vra nie. Ons verkies om nie na die Jeremias onder ons te luister nie, want dit vra te veel van ons. Ons verkies om so min moontlik ontwrig te word. Ons sal dus immer geneig wees om liewer na Gananja te luister. Politieke leiers is gewone mense. Hulle is, net soos die res van ons, geneig om eie – en landsbelange eerste te stel.

Wat globaal goed is, is vir ons almal goed. Wat globaal sleg of nadelig is, is ook nadelig vir ons almal. Wat vir my self goed is, is nie noodwendig vir almal goed nie. Wat egter vir almal goed is, is ook vir my goed. Daarom dat Paulus ons in Fil 2:4 só aanmoedig:

Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan die van ander.

En dan volg hy dit op met die voorbeeld van Christus Jesus wat sigbaar vir ons wys dat God in nederigheid nie vir God leef nie, maar wel vir God se skepping.

Ek kies om na die Jeremias onder die wetenskaplikes te luister. En hulle hoef nie beleidende Christene te wees nie, want God praat nie net deur Christene nie. Ons maak die fout om te dink: hoe beter die nuus, hoe meer die hoop. Hoop werk egter andersom: hoe slegter die nuus hoe meer die hoop. Ons moet ophou om mense doemprofete te noem as ons nie van hul slegte nuus hou nie. Hoop word binne-in die aanvaarding van die slegte nuus gebore.

Die ballinge wat na Jeremia geluister het, was beter voorbereid op die ballingskap. So sal hulle wat na die Jeremias in die wetenskap luister ook hulself beter voorberei vir die ekologiese ballingskap wat op ons wag.

Voorstel

  1. Die wil om die Parys-ooreenkoms te implementeer ontbreek nie by al die politieke leiers van die wêreld nie. Bhutan, een van die kleintjies, stel ‘n voorbeeld wat al die ander gerus kan volg – ook die politieke leiers van onse land. Luister hier hoe Tshering Tobgay, die eerste minister van Bhutan (Julie 2013 tot Augustus 2018), vertel van hul land se verbintenis tot die uitdagings wat klimaatsverandering inhou en die ooreenkomste van Parys: https://binged.it/2qLJECc.
  2. Die berig oor Antonio Guterres se opmerkings kan u hier lees met nog vele ander ekologiese bydraes vanuit Duitsland: http://bit.ly/2X8zZBM

Vrede vir julle en jul omgewings.

David P Botha
dpbotha2@gmail.com