Waar sal ons hoop kry vir die ekologiese uitdagings wat ons reeds tref en nog vorentoe op ons wag? Wat sal vir ons moed gee om elke dag te bly doen wat ons kan en wat vir die ekologie goed is? Wat sal ons help om te bly glo dat ons klein bydrae tog op die ou end ‘n verskil maak en die moeite werd is?

Ek kan maar net vertel waar ek my hoop vandaan kry en wat vir my moed gee.

Ek kry nie hoop uit die moontlikheid dat die slegte voorspellings oor aardverwarming dalk verkeerd kan wees nie. Alhoewel dit my inspireer, is dit ook nie al die besondere en soms selfs buitengewone ekologiese projekte en inisiatiewe wat mense dwars oor die wêreld loods wat my moed gee nie.

Die Christelike kerk vier elke jaar die verhaal van die liefdevolle en goeie God se aardevaart. Dit speel soos ‘n drama van Sondag tot Sondag af. Dit begin met die eerste Sondag van Advent en eindig met die Sondag van Christus die Koning. Die afgelope jaar se drama bereik sy hoogtepunt op Sondag 24 November. Dan vier ons die koningskap van Christus oor die ganse skepping. En dit is hierdie waarheid wat ten diepste die grond en oorsprong van my hoop is.

Gesang 126 is vir my een van die heel mooiste gesange in die Sionsgesang-bundel. Die eerste vers gaan só:

Jesus Christus heers as Koning

Hy’s verheerlik deur sy kroning

en met majesteit beklee.

Alle owerhede, magte,

heerskappye, trone, kragte

moet Hom lof en ere gee,

moet Hom lof en ere gee.

 

Dit bly dan ook immer die goeie nuus van die Bybel: God is met hierdie skepping op pad na ‘n goeie en buitengewone hoogtepunt. Elke keer as die Bybel oor die toekoms praat dan word dit geteken met beelde wat te goed is om waar te wees. Jesaja 65 is een van die baie tekste wat oor die toekoms gaan. En Openbaring 21 en 22 maak ook ruim gebruik van Jesaja 65 om te vertel van hoe die nuwe hemel en aarde gaan lyk waarheen God met alles op pad is, nl. vrede. En vrede (shalom) in die Bybel beteken omvattende en alles-insluitende heelheid.

En dit is omdat ek glo dat die geskiedenis van die veelal in die hande van God is dat ek bly hoop – selfs al is ons volgens wetenskaplikes in die sesde massa uitsterwing van spesies in die geskiedenis van die aarde. Dit is nie ‘n hoop wat my passief laat uitsien en wag op wat God sonder my gaan doen nie. Dit is ‘n hoop wat my aktief  laat inskakel en deel maak van die uitvoering van God se plan van vrede – met daaglikse dade (ook eko-dade) wat in diens staan van vrede. Wie nou vir vrede leef, help skep aan God se toekoms van vrede.

‘n Geseënde Sondag van Christus die Koning vir u almal … en vrede vir u en u omgewing.

David P Botha
dpbotha2@gmail.com