Sommige bronne beweer dat ons kooplus en die produksie van afval tydens Kersfees met 25% verhoog. En dit lyk my besighede het met SwartVrydag dit in die oog om hierdie verhoging nog ‘n ent hoër te jaag. Die Kersseisoen is regtig nie goeie nuus vir die aarde nie. Die slegte gevolge van ons verbruikerskultuur kry elke jaar tydens hierdie seisoen sy hoogtepunt.

Die beste geskenk wat ons tydens Kerstyd vir die aarde kan gee, is om oor te skakel na ‘n lewe van eenvoud. Dit was ook die kenmerk van die geboorte van Jesus van Naseret. Alles rondom Sy geboorte was eenvoudig: sy ouers was gewone mense, sy geboorteplek was ‘n stal, en sy bedjie was ‘n krip in ‘n klein dorpie met die naam Betlehem. En alhoewel sy geboorte deur engele aangekondig is en deur wyse manne uit die ooste gevier is, was dit herders wat grootoog en verwonderd die ooggetuies was. En herders was nou nie eintlik gereken as vername mense nie.

Ek dink Mary Ellen Chase is reg: “Christmas, children, is not a date. It is a state of mind.”

Ons moet Kersfees vier met dieselfde ingesteldheid waarmee God in Jesus ‘n mens geword het. In Jesus kry God se liefde die gestalte van eenvoud. ‘n Lewe van eenvoud vier die klein en onindrukwekkende dinge. Dit waardeer die dinge (ook mense) in die lewe wat gewoonlik op neergesien en neus voor opgetrek word.

Prakties kan dit o.a. die volgende insluit:

  • Maak julle Kersfeesvieringe en ete eenvoudig.
  • Beplan die spyskaart met eenvoud in gedagte en maak seker dat daar net genoeg is vir die mense wat gaan aansit – dus: geen ooreet en ook geen oorskiet.
  • Nooi iemand of ‘n gesin, wat minder bevoorreg as julle is, uit na julle Kersete.
  • As julle geskenke uitdeel: maak dit self met ‘n spesiale boodskap daarby. Hou dit klein.
  • Maak seker dat julle ete geen huishoudelik afval veroorsaak wat na die vullisgate hoef te gaan nie.
  • Skakel alle plastiek (dit sluit nylon in!) uit julle vieringe uit, soos bv die kersboom en versierings. Koop ‘n jong boompie in ‘n pot en gebruik dit as julle kersboom. Plant dit dan iewers na Kersfees en versorg dit, totdat dit groot en sterk genoeg is om self verder reg te kom. Maak julle eie versierings van organiese materiaal.

As julle ‘n kriptoneel gebruik, maak dan julle eie van organiese materiaal uit die tuin en omgewing. Ons dogter het bv. ons toneel se karakters uit klei gemaak.

  • Daar is legio idees op die internet beskikbaar oor hoe om Kersfees eko-vriendelik te vier. Gaan kyk gerus.

Mag julle ‘n baie geseënde Kersfees hê en mag 2020 ‘n goeie jaar vir die aarde en al haar inwoners wees.

 

David P Botha
dpbotha2@gmail.com

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *