‘n Honger seuntjie kry ‘n broodjie by ‘n vrou wat in hierdie tyd steeds voortgaan met kosvoorsiening.

“Steek jou hand in jou sak, kos- en vrieskas, en gee wat jy kan.” So vra Mariana le Roux, maatskaplike werker in een van ons behoeftigste sosio-ekonomiese gemeenskappe in die Overstrand-distrik. Hier waar baie mense van die hand tot die tand leef en elke dag ‘n stryd om oorlewing is.

In hierdie tyd van verpligte inperking eskaleer sosio-ekonomiese probleme by die dag, veral omdat dit nou ook boonop onmoontlik is om op die normale manier voort te gaan om maatskaplike werk sonder menslike kontak te lewer.

“Ons kliënte wissel van mense wat in informele nedersettings woon, mense wat in bosse slaap tot ekonomies-selfstandige mense. Baie van hulle is dagloners, werk by besighede of is selfs entrepreneurs,” vertel Le Roux, “maar sedert die huidige inperking het baie mense geen inkomste nie en die skole waar hul kinders skoolgaan, het ook nie die voordeel van ‘n voedingskema nie.”

Le Roux werk al vir ‘n hele paar jaar vir die Hermanus Child & Family Services (https://hcfs.org.za/) en moet in gewóne omstandighede sterk staan om nie deur die daaglikse huishoudelike geweld, dwelmverwante persoonlikheids- en gesinsprobleme en kinderverwaarlosing oorweldig te word nie. Maar in hierdie COVID-19-grendeltyd moet jy ekstra sterk staan – hierdie werk is beslis nie vir sissies nie. Nou moet jy kreatiewe planne maak soos nog nooit vantevore nie.

Wat maak jy byvoorbeeld as ‘n vroeggebore baba op sewe maande van sy dwelmafhanklike ma verwyder moet word en so gou as moontlik by ‘n geskikte veiligheidsouer geplaas moet word?

“Dis ontsettend moeilik om geskikte veiligheidsouers te vind. Wie sien kans om ‘n ander vrou se FAS-kind of ‘n dwelmverslaafde se verstandelik-beperkte kind, met al die gepaardgaande uitdagings daarvan, groot te maak? Veral in hiérdie tyd? Jy begin heel eerste na ‘n geskikte veiligheidsouer by die kind se familie soek. Enkele mense kom meld ook hul dienste aan wat as gevolg van hul geloofsoortuiging veiligheidsouers wil wees,” vertel Le Roux, “maar hulle is dun gesaai.”

“As jy sien hoe baie kinderhuise daar is en hoe lank die waglyste, besef jy hoe stukkend ons samelewing is. Daar is honderde desperate gevalle van kinders wat dringend in veilige en liefdevolle huise geplaas moet word; iets waarvoor bitter min mense kans sien.”

Jy kan ook nie op jou louere rus en hande gevou sit en hoor hoe honger kinders mense se kosvoorsieningskombuise oorval nie. Wat maak jy? Jy gaan sit en dink ‘n storm los oor hoe om hierdie golf te ry en nie daardeur verpletter te word nie. “Nadat ‘n gemeenskapslid aan my vertel het hoe honger haar kinders is (beide sy en haar man is dagloners), het ons saam vetkoekbestanddele gaan koop,” vertel Le Roux. “Daarna het die vrou my toe gehelp om die mees behoeftige gesinne in haar gemeenskap te identifiseer wat van basiese kos voorsien kan word.

“Dis onmoontlik om anderpad te kyk as jy kos in jou huis het. Nadat ‘n beroep op vriende, familie en kennisse gedoen is om finansiële bydraes te lewer, het ons onmiddellik reaksie gekry en binne ‘n uur kon groente, vleis en pasta aangekoop en afgelewer word. Dit is geskenk aan ‘n vrou in Paradise Park, wat elke Sondag vir 50 maaltye sorg. Nou kan sy vir ten minste vir die volgende drie weke daarmee voortgaan.

“Camphill, ‘n skool vir outistiese en verstandelik-beperkte kinders wat in die Hemel en Aarde-vallei hier naby geleë is, het in die week ‘n voorraad kos by ons kantoor kom aflewer vir die kinders wat in hul skool is en in  ons gemeenskap woon.”

Dis sulke liefdesdade waarsonder ons behoeftige gemeenskappe nie maklik die mas in hierdie uitdagende tyd gaan opkom nie. Sluit aan by jou dorp se reedsbestaande infrastruktuur waar hulp in hierdie (en veral in die komende tye) broodnodig gaan wees.

En steek daai hande diép in jou sak en kyk waar jy jou brood en vis kan deel.