“Buig die boompie terwyl hy jonk is.” Ons ken hierdie idioom; dit was maklik om jou gedrag te kon aanpas waarop jou ouers of onderwysers aangedring het terwyl jy klein was. Daar is mooi aan jou verduidelik dat jou gedrag selfsugtig was, of dat jy iemand te na gekom het, of dat jy iemand verneder het. Jy het dit meestal begryp en jou gedrag probeer verander. Jy sukkel soms lewenslank met sommige gedragspatrone.

As volwassene is dit nie net moeilik om te erken dat jy jou gedrag moet verander nie; dis ook moeilik om iemand tereg te wys. En dis waaroor ons dringend in gesprek moet tree.

Dit is wêreldwyd van kardinale belang dat ons, ter wille van vreedsame naasbestaan, en veral ten bate van kerkfamilie-eenheid, eerlik en opnuut na onsself sal moet kyk.

En dis hier waar jy moet besluit of jy verder wil lees: ‘n ou boom kan eintlik nie meer gebuig word nie – daar sal dalk ‘n tak of twee skeur – ‘n pynlike proses, maar hopenlik ook ‘n oopgesnoeide proses, wat meer vrug sal laat dra.

Prof. Melissa Steyn, verbonde aan Wits verduidelik tydens ‘n onlangse webinaar dat witmense nie altyd snap hoe die wêreld wat deur hulle in die noordelike halfrond ten bate van hul eie belang geskep is, deur diegene aan die ontvangkant ervaar word nie. Hierdie wit wêreld met sy “ill-gotten gains” loop al vir honderde jare meestal steeds parallel met dié van ons gekonstrueerde wêreld wat vir ander geskep is.

Ons leef in (soms doelbewuste) onkunde, ignorance – ‘n bestaan wat deur bevoorregting gevoed en doelbewus gekultiveerd is met praktyke soos Apartheid, as maar een voorbeeld.