Grendeltyd maak baie deure en geleenthede toe. Maar dan sluit dit ook weer ander en nuwe deure vir ons oop. Een van die deure wat vir ons wawyd oopgaan, is die maak van ons eie tuin en die kweek van ons eie groente en vrugte. Tuinmaak is natuurlik nie ‘n nuwe deur nie. Dit was voor die industriële revolusie die manier waarop gesorg is vir kos op die tafel. Nie net is die maak van ‘n eie tuin ‘n uitstekende manier om te sorg vir gesonde en vars kos nie, maar dit bring ons ook (weer) in kontak met die grond en die ekosisteme wat deel uitmaak van die grond, plant en diere lewe.

Tuinmaak het ‘n diep helende uitwerking op die mens – liggaamlik en geestelik. Dit bring jou in kontak met jou menslikheid – jou aardsheid. Jy raak bewus van die siklus van die lewe – wat die dood insluit. Jy raak deel van die seisoene. Jy leer geduld en ontmoet die wêreld van die skaaldiere wat sorg vir die afbreek van organiese materiaal en vir die vrugbaarheid van die grond. Jy leer ken die insekte en voëls. En jy ervaar iets van die kuier van God by Adam en Eva in die tuin van Eden, terwyl jy in jou tuin op God ingestel, doenig is.

Vir ons wat in die 20ste eeu lewe en wat grootliks kontak met die aarde en natuur verloor het, is tuinmaak soos ‘n tuiskoms. Wie kontak met die natuur en grond verloor, verloor eintlik kontak met hom/haarself. Daarom is tuinmaak ‘n wonderlike en suksesvolle manier om jouself weer te vind. Om te ontdek dat ons onlosmaaklik deel is van en behoort tot die aarde. Tuinmaak is omvattend helend.

Miskien is dit een van die voordele van toe kerkdeure. Miskien wil die Here ons help om ons gesigte te draai na die natuur en die aarde, sodat ons heel kan word.  En dalk is deel van die heelwording wat ons nodig het die herontdekking dat ons deel is van die natuur en absoluut afhanklik is van die grond en alle vorme van lewe rondom ons. En die poort na die natuur lê nou in die grendeltyd in ons eie tuin en in ons eie stukkie grond – al is dit net ‘n stukkie tuin in een of twee motorbande iewers op die erf.

Ek hoor hoe sommige reageer: “Ek het nie groen vingers nie. Niks wat ek in die grond sit, wil groei nie.” Dié stelling is natuurlik eenvoudig onwaar. Elke mens kan tuinmaak. Jy het nie groen vingers daarvoor nodig nie. Net ‘n bereidheid om te leer, is genoeg. Tuinmaak is om te leer om ‘n medewerker van die natuur te word en lief te wees vir jouself en vir God. En ‘n mens leer in elk geval nie in die begin deur groot sukses te behaal nie, maar deur jou foute. En as jy die vreugde van ‘n eerste oes ervaar, al is dit hoe klein, kyk jy nie weer terug nie.

Grendeltyd skep tyd vir dinge wat naby aan ons is – in en om ons huis, dus ook vir tuinmaak.

Hier is twee persone wat kan help met raad en ondersteuning:

Vrede vir julle en julle tuine.

david p botha
dpbotha2@gmail.com