In verlede keer se artikel het ek gevra dat die teologie en die mediese wetenskap hande moet vat om mense te help om die dans van die lewe te bemeester – die dans van die lewe EN die dood.

Beide die teologie en die mediese wetenskap is natuurlik ewe afhanklik van die natuur as leermeester. En gelukkig hoef die teologie glad nie bang te wees vir die natuur as leermeester nie, want die Bybel maak self ruim gebruik van die natuur as leermeester en sien die natuur ook as plek waar God in en deur Christus in die Heilige Gees woon.

‘n Mens hoef maar net hierdie week se Pinkster-leesroostertekste te lees om dit agter te kom. Ps 104 bely die afhanklikheid van alles wat bestaan van die “asem (Gees) van God”. Vers 30 sê: “Stuur U u asem, word hulle geskape, U gee die aansig van die grond ‘n nuwe voorkoms.” In Joël 2 sê die profeet vir die ploegland: “wees bly en juig”en vir die vee/diere in die veld: “moenie bang wees nie … want die weiveld word groen, die bome dra vrugte, die vyebome en die wingerd staan in volle drag.” En dan beskryf die profeet die koms van reën en ‘n oes wat die skade van die sprinkaanswerms herstel. Hierop volg dan dié bekende belofte: “(Daarna) sal Ek my Gees laat kom op al die mense (letterlik: vlees)…” In Johannes 7:37-39 kondig Jesus aan dat Hy mense se dors les deur vir hulle die Heilige Gees te gee. Jesus haal dan Jes 58:11 aan en sê dat die Heilige Gees ‘n fontein van lewende water sal wees in elkeen wat in Hom glo. En in Handelinge 2 vertel Lukas vir ons dat die Heilige Gees soos tonge van vuur op elkeen van die dissipels kom sit het. En in 1 Kor 12:13 sê Paulus: “Ons is almal van een Gees deurdrenk.” Verskeie Engelse vertalings sê: “We drink from the same Spirit”. Vir my lyk dit asof ons die beginsel van lewe met die Gees van God kan verbind. Oral waar daar lewe is, het ons dan met die Heilige Gees te doen.

Daarom gaan sit ek nou saam met u aan die voet van die pekanneutboom in ons agterplaas en vra: “Wat is die geheim van ‘n lewe wat die dans van die lewe bemeester het? Die dans wat die dood as ‘n vriend verstaan en nie as ‘n vyand nie?” Die pekanneutboom, saam met alle ander bladwisselende bome, ken die kuns om die dood te verstaan as deel van die lewe. Dit is bome wat totaal oorgegee lewe aan die seisoenale siklus van die lewe. September 2019, met die aanbreek van die lente, het hierdie boom “wakker” geword. Binne enkele dae het al die groeiknoppies aan die takke begin bot en blare maak. Dit was nie lank nie, toe was die kaal boom vol helder en gesonde, nuwe blare. Hierdie blare  het dadelik begin om in diens te staan van die lewe. Hulle het noodsaaklike voedingstowwe (soos byvoorbeeld koolsuurgas) uit die lug uit opgeneem vir die onderhoud van die boom se eie lewe. En deur die blare het die boom ook suurstof vrygestel vir alle ander vorme van lewe (soos die mens).

Bome se blare is fasiliteerders van lewe.  Met die aanbreek van die somer het die blare die boom in staat gestel om blomme en vrugte te maak. En in die herfs, toe die vrugte ryp word, was die werk van die blare klaar. Hulle het gedoen waarvoor hulle gemaak was. Hulle het in diens gestaan van die lewe. Bome staan in diens van die lewe, daarom hulle blare ook. Die vrugte gee die boom as geskenke van lewe. Elke vrug dra die kiem van die lewe. Elke neut word óf ‘n nuwe boom óf dit dien as voedsel vir diere (mense ingesluit). Die blare verkleur nou en met die nader kom van die winter gaan hulle een vir een grond toe val. En dan staan die boom kaal. Oorgegee aan die harde koue van die winter. Hoekom sal ‘n pekanneut oorgegee aan die winter leef? Omdat dié boom die koue, harde winter nodig het vir die vorming van blomme en vrugte in die somer. Pekanneute het koue temperature van onder 8°C nodig hiervoor. Hulle het met ander woorde die koue nodig om in diens te kan staan van die lewe. Daarom is hulle volkome oorgegee ook aan die winter – die seisoen van kaal wees en swaarkry.

Alles wat God gemaak het, bestaan ter wille van die lewe. Alle spesies leef oorgegee aan die sirkelgang van die lewe. Net een spesie sukkel hiermee: homo sapiens. Ons is die een spesie wat ‘n vrye wil ontvang het. Ons kan kies. En ons verhaal is die verhaal van verkeerde keuses. Op een of ander manier hou al ons verkeerde keuses verband met ons onwilligheid en onvermoë om die werklikheid te aanvaar vir wat dit is. Ons sukkel om te aanvaar dat ons nie God is nie en dat die wêreld nie om ons draai nie. Ons sukkel om te aanvaar dat die dood deel is van die lewe. Ons soek lewe sonder stryd, swaarkry en die dood. Ons soek ‘n lewensirkel sonder die winter seisoen – met sy swaarkry en sy sterf. En omdat ons weier om te sterf, kan ons ook nie die vrug van die lewe (Gal 5:22-23), soos die pekanneut, dra nie.

Jesus, die Seun van God en die seun van die mens, sê vir ons dat daar geen ander lewe vir ons moontlik is as die lewe van die koringkorrel nie: sterwe is voorwaarde vir lewe. Jesus bevestig met ander woorde – ook met Sy eie dood – die waarheid van die lewe soos wat die pekanneut dit lewe: nuwe lewe (opstanding) is slegs moontlik vir hulle wat bereid is om te sterwe.

Vir die pekanneut hang volgende jaar se oes aan vrugte af van hierdie winter se koud en swaarkry. Net so hang my dra van die vrug van die Gees (Gal 5:22-23) af van my bereidheid om te sterwe aan alles wat vals en onwaar is – elke dag en uiteindelik ook daardie oomblik wat ek my laaste asem sal uitblaas.

Hildegard van Bingen se getuienis weerspieël die gees en ingesteldheid van die pekanneut en die koringkorrel:

Ek is ‘n veer op God se asem.

Vrede vir julle en jul omgewing.

david p botha
dpbotha2@gmail.com