Ps 24:1 en een van die gebede in die Keltiese Gebedeboek* wat vir Maandag in die weeklikse gebedsiklus geskryf is, bely só:

Voorganger:       Dit weet ons: Die aarde behoort nie aan ons nie.

Leser:                 Die aarde behoort aan God en so ook alle mense.

Voorganger:       Dit weet ons: Ons het nie die web van die lewe geweef nie.

Leser:                 Die aarde behoort aan God en so ook alles wat asemhaal.

Voorganger:       Wat ookal met die aarde gebeur, gebeur met die seuns en die dogters van die aarde.

Almal:                Die aarde behoort aan God en só sal ons dit dien.

 

Daar is ‘n paar goed wat ons as Christene weet, sê hierdie gebed:

  1. Die aarde behoort nie aan ons as mense nie.

Mense besit dus niks! Niks! Die uitdrukking: “Dit is myne”, verklap ‘n illusie en ‘n waan van grootheid.

  1. Die aarde behoort aan God.

As dit die waarheid is, dan behoort alle mense (ek en jy inkluis) ook aan God. Ek is nie ‘n eienaar nie. Ek is die besitting van die Een wat my geskep het. Daar is ‘n eienaar, maar dit is nie ek nie. Ek is gered wanneer ek uit hierdie waarheid lewe. Ek is verlore, wanneer ek buitekant hierdie waarheid lewe. Wie binne hierdie waarheid lewe, is ‘n slaaf van niks en niemand en word bewaar en bevry van ALLE vorme van verslawing – vry om waarlik te lewe.

  1. Die mens het nie die web van die lewe geweef nie.

Lewe het die karakter van ‘n web. Kundig en met vernuf is die lewe geweef en gespin. En daar is net een web van die lewe en ons weet dat ons as mens nie die web geweef het nie. In hierdie een web van die lewe is die ryke verskeidenheid van lewensvorme aan mekaar verbind. Net soos God die Skepper drie is en ook een, so is die lewe ‘n verskeidenheid van vorme van lewe en tog ook onlosmaaklik een. In hierdie web is elke vorm van lewe wesenlik en belangrik. En in hierdie web is elke vorm van lewe afhanklik van al die ander vorme van lewe. Mense is dus niks belangriker as goggas en plante nie!

  1. Omdat die aarde – alles inkluis – aan God behoort, daarom behoort nie net mense nie, maar “alles wat asemhaal” aan God.

God is alleen en inklusief eienaar van die aarde en alles wat daarin woon. En omdat God alles gemaak het, het alles unieke en intrinsieke waarde. Die asem waarmee alles asemhaal (lewe), is God se eie asem (Gees) (vgl Ps 104). Die aarde met alles wat daarin woon, behoort dus nie aan God soos ‘n besitting nie, maar soos ‘n liggaamsdeel.

5. Omdat die mens deel uitmaak van die een web van die lewe is die mens se lot en welsyn, saam met die res van die een web van lewe, volkome afhanklik van die welsyn van die aarde. Daarom bely die gebed: “Wat ookal met die aarde gebeur, gebeur met die seuns en die dogters van die aarde.” Mense se lot is ten minste net so afhanklik van die welsyn van die aarde soos wat die baba in die baarmoeder afhanklik is van die welsyn van die ma.

Die gebed sluit af met die volgende verbintenis:

Die aarde behoort aan God …

daarom verbind ons ons daartoe om die aarde vanuit hierdie waarheid te dien.

Ons aanvaar dat ons plek en rol dus nie die van eienaars is nie, maar die van diensknegte!

Voorstel:

Maak hierdie gebed ‘n gereelde deel van jul persoonlike of gesin se gebedslewe. Dink na oor die uitdagings en implikasies van dié gebed vir jul lewe. Luister met aandag na die voorkoms van die woordjie “myne” in jul gedagtes en gesprekke. Watter verslawings merk julle in jul lewe op? Wat sal moet verander in jul verhouding met die aarde en met dit wat julle “myne” noem?

* Die Keltiese Gebedeboek, Vol 1, se gebede vir elke dag van die week is met toestemming van die oorspronklike uitgewers vertaal en is by my beskikbaar by die onderstaande adres. Dit is responsoriese gebede wat enige groep gelowiges (twee of meer) kan gebruik.

Vrede vir die aarde wat aan God behoort.

david p botha
dpbotha2@gmail.com