God besit die aarde en oefen eienaarskap daaroor uit op só ‘n manier dat ons eintlik moet sê dat die aarde ook nie God se besitting is nie. Alhoewel die aarde aan God behoort (Ps24), hanteer God glad nie die aarde as ‘n besitting nie. God wedywer met niemand en niks oor die eienaarskap van die aarde nie. God se eienaarskap is soewerein en nooit in gedrang nie. God se verhouding met die aarde is ‘n liefdesverhouding. En God se liefde ken glad nie so iets soos besitlikheid nie. Inteendeel, God se liefde is eerder spandabel. Dit is ‘n ewig vloeiende stroom van versorging en onderhouding. En dit ten spyte daarvan dat homo sapiens God se eienaarskap betwis met kaart en transport. God se omgee en versorgende liefde is genadig en konstant goed teenoor “slegtes en goeies” en teenoor “dié wat reg doen en dié wat verkeerd doen” (vgl Mat 5:43-48).

Die een wat vir my die helderste oor hierdie waarheid geskryf het, is Thomas Merton.

The most wonderful thing about the world is that it is nobody’s property, not even God’s! We, who are ruined by our own indigence [want or neediness] to the point of thinking that we can possess something, worship a false god, a god of possession, that is a god of destruction. God is the God of the living. (Uit: Entering the Silence, p 474)

God, Who owns all things, leaves them all to themselves.

He never takes them for His own, the way we take them for our own and destroy them.

He leaves them to themselves.

He keeps giving to them, giving them all that they are, asking no thanks of them save that they should receive from Him and be loved and nurtured by Him, and that they should increase and multiply, and so praise Him.

He saw that all things were good, and He did not enjoy them.

He saw that all things were beautiful and He did not want them.

His love is not like ours.

His love is unpossessive.

His love is pure because it needs nothing. (Uit: The Sign of Jonas, p 346)

 

Volgens die Genesisverhaal is homo sapiens na die beeld van God geskep. Dit beteken sekerlik o.a. dat die mens geskep is met die kapasiteit om net soos God die skepping lief te hê – onvoorwaardelik en ondersteunend. God se skepping (wat mos die aarde insluit) is gevul met die lewe van God self. Hierdie lewe stel elke vorm van lewe daartoe in staat om te ontwikkel en te word wat God dit bedoel om te wees. Daarom is lewe op aarde dinamies en bly God evolusionêr skeppend betrokke by alles wat God geskep het. Ons lewe dus in harmonie met God wanneer ons soos God alles wat God gemaak het toelaat, beskerm en ondersteun om hulself te wees.

Ons genot behoort nie daarin te wees om die aarde te verander en te verbruik nie, maar daarin om die natuur waar te neem en daarvan deel te wees op dieselfde manier as waarop God dit doen. Ons taak is nie om te besit nie, maar om te dien. En dit kan ons net doen na die mate waarin ons soos God liefhet.

Daar is oor die 209 miljoen foto’s by hierdie webtuiste op die internet beskikbaar, let wel, teen vergoeding! (https://www.alamy.com/stock-photo/private-property-sign.html). En daar is nog ander soortgelyke webtuistes. Is hulle nie dalk almal simbole van ‘n sieklike en besitlike selfliefde van die mens nie?

Vrede vir die hele aarde.

david p botha
dpbotha2@gmail.com