COVID-19, as well as many other pandemics, are the result of humanity’s destruction of nature, according to a report from the World Wildlife Fund. (FOX5 New York)

Die Coronavirus 2019-pandemie met al die grendeltyd-inperkinge werk soos ‘n groot vergrootglas. Ons sien in hierdie tyd dit wat mooi en goed is in die mens. Daar is talle stories van groot omgee en groot opoffering.

Tog vergroot en verhelder die pandemie ook dinge wat ons nie eintlik graag wil sien nie – soos byvoorbeeld ons afhanklikhede. Mense wat met afhanklikheid van middels soos nikotien en alkohol sukkel, kry nou baie swaar. Dit is egter nie net mense wat van middelafhanklik is wat met afhanklikheid sukkel nie; ons sukkel almal daarmee.

Soos ons grootword, ontwikkel ons perspektiewe, oortuigings, standpunte, assosiasies, verbintenisse, voorliefdes en gewoontes. En dit alles is belangrik. Dit is soos kompasse waarmee ons ons pad deur die lewe vind. Ongelukkig ontwikkel ons terselfdertyd ‘n sterk afhanklikheid van dit alles. En hierdie afhanklikheid word dan vir ons ‘n struikelblok – veral in krisisse soos pandemies.

Al hierdie afhanklikhede word deur die COVID-19-pandemie met al sy inperkinge vergroot. En wat veral vergroot word, is ons gesukkel met die noodsaak om te verander. Die pandemie dwing ons om nuut te dink en ou gewoontes te laat gaan en nuwes aan te leer. Dit het gevaarlik geword om in die winkels en openbare saamkomplekke rond te kuier. Blootstelling aan ander mense beteken die verhoging van die kans om aangesteek te word. Geliefde dinge, soos byvoorbeeld die bywoning van kerklike – en sportbyeenkomste, uiteet en kuier is nou uiters ongewens. Ons word volgens wet verplig om maskers te dra wanneer ons ons huise verlaat. En my waarneming van mense se reaksies en gedrag op al hierdie dinge is dat ons verskriklik daarmee sukkel. Ons geïrriteerde reaksies verklap ons gesukkel. ‘n Mens hoef maar net na luisteraars en gespreksprogramme op die radio te luister en mense se bydraes in die sosiale media te lees om onder die indruk te kom van hoe geïrriteerd ons nasie is.

Ek kry die indruk dat die meeste van ons heimlik hoop dat die pandemie nou moet end kry sodat ons met ons lewens soos dit was, kan voortgaan. Of ons dring daarop aan dat die regering ten minste al die grendelinperkinge ophef sodat ons kan terugkeer na dit waaraan ons gewoond was om te doen. Hierdie hoop of aandrang hou nie rekening met die onontkombare werklikheid dat dit waaraan ons gewoond was, verby is nie.

Een van die organisasies wat op die voorpunt van ekologiese navorsing en bewaring is, is die WWF (World Wildlife Fund). In ‘n onlangse verslag sê die WWF dat tussen 60-70% van pandemies wat die afgelope 30 jaar voorgekom het, soos die COVID-19-pandemie, hul oorsprong by wilde diere het. Die afstand tussen mense en wilde diere het al kleiner geword. En hierdie nouer kontak het dit vir virusse en ander patogene wat in die natuur voorkom moontlik gemaak om mense te infekteer. Veral twee faktore het hierdie nouer kontak veroorsaak:

  1. Ontbossing

Die mens het as gevolg van landboubehoeftes en die uitbreiding van groot stede die woude van die aarde ontbos (en ons doen dit steeds!). Ons en die vee op ons plase en ons huisdiere het daarmee nader en meer direkte kontak met wilde diere opgebou. Hierdie nadere kontak het veroorsaak dat virusse en ander patogene wat tot nog toe net onder wilde diere aktief was dit nou makliker regkry om tot by die mens uit te kom.

  1. ‘n Swak gereguleerde wild-voedselbedryf

Wilde diere se vleis vorder vanuit die wild deur die markte van groot stede tot op mense se borde. Hierdie proses word swak gereguleer en mense se gaarmaakmetodes is nie voldoende om seker te maak dat die vleis veilig in ons spysvertering beland nie.

As gevolg van bogenoemde is Ebola, SARS en COVID-19 slegs die begin van nog baie meer pandemies, waarsku die WWF-verslag. Bevolkingsaanwas, verstedeliking, eetgewoontes, voedselproduksie en verspreidingsmetodes en -regulering is almal faktore wat ons gebring het waar ons nou is. Dit spreek vanself dat ons anders sal moet begin dink en dinge anders sal moet begin doen indien ons wil verhoed dat nog en veel erger pandemies homo sapiens tref.

U kan meer oor die WWF-verslag lees by die volgende skakel: https://bit.ly/3erZh4R

In die artikel van FOX5NY is daar ook ‘n insetsel van Dr Gabe Kelen van die Department of Emergency Medicine van John Hopkins oor die COVID-pandemie waarin hy aantoon dat die pandemie nog lank nie verby is nie. Ons wil nie graag sulke goed hoor nie. Nou is egter nie ‘n tyd om soos volstruise ons koppe in die grond te druk nie. Ons leef in kairostyd – ‘n tyd wat beslissend is vir die toekoms van ons en ons kinders en die aarde en daarom dus ook ‘n tyd van nuut dink en doen.

Waarmee ons mekaar nou dringend moet help, is om die vaardigheid en soepelheid te ontwikkel om verandering deel te maak van ons lewenstyl. En die eerste ding wat ons sal moet leer doen, is om op te hou om terug te verlang na dit waaraan ons gewoond was en als te weerstaan en teë te staan wat ons keer om daarheen terug te keer. Eers dan is ons gereed om te rou oor dit wat verby is en nuut te begin dink en doen.

Vrede vir jou en jou omgewing.

david p botha
dpbotha2@gmail.com