Prof. Francois Engelbrecht is ‘n Suid-Afrikaanse klimaatoloog met internasionale erkenning. Hy dien ook op die IPCC (Intergovernmental Panel on Climate Change: https://www.ipcc.ch/) van die VN (https://www.un.org/en/) en help skryf aan die verslag wat hulle gereeld aan die VN voorlê oor klimaatsverandering.  RSG het verlede week weer ‘n gesprek met hom gehad. In dié gesprek sê hy ‘n paar belangrike en onthutsende dinge.

Een van die dinge wat hy sê is dat die inperking wat COVID-19 op die vrystelling van die kweekhuisgas CO² (koolstofdioksied) die afgelope paar maande gehad het slegs ‘n kortstondige 10% was. Vir die van ons wat gehoop het dat COVID-19 se minder vlieg en ry en nywerheidsaktiwiteite ‘n groot bydrae gaan maak tot die ekologiese herstel van die aarde is dit dalk ontstellende, maar ook versoberende nuus. Prof Engelbrecht is een van die klimaatwetenskaplikes wat daarvan oortuig is dat ons die vrystelling van CO² teen 2030 met 45% moet verminder en teen 2050 moet afbring tot by nul (geen vrystellings) indien ons daarin wil slaag om die aarde se verwarming tot 1.5°C wil beperk. Die vooruitskatting is dat die proses van aardverwarming onder ons gaan uithardloop met katastrofiese gevolge as ons hierdie ideaal nie verwesenlik nie. Ons kan dus bly wees oor die 10%-bydrae van die inperkinge van COVID-19, maar ons kan glad nie gerus wees nie. Soos wat die ekonomie weer oopgestel is, het die vrystelling van CO² maar net weer begin terugkeer na waar dit was. Wat regtig ontstellend is, is die syfers wat daarop dui dat die groot nywerheidslande se koolstofvrystellings die afgelope jaar verhoog het in plaas van verlaag. Ons het 10 jaar tyd om ons koolstofvrystelling tot by 45% af te bring en ons is besig om dit te verhoog! Die politieke wil ontbreek by die belangrikste rolspelers (ook ons eie!) om die maatreëls in plek te sit waarop in die VN ooreengekom is.

Volgens prof. Engelbrecht dui die jongste navorsing boonop ook daarop dat die aarde se temperatuur vinniger verhoog as wat hulle voorspel het. Daar is reeds 13% van die pole deur aardverwarming weggesmelt. Ons kan dus die 1.5°C-verhoging reeds sporadies binne die volgende 5 jaar beleef.

Luister gerus hier na prof Engelbrecht se gesprek met Monitor: https://bit.ly/3faYZ2A. Begin luister by 3:15 minute.

Dit is dus duidelik: Ons is besig om agteruit te boer. Wat ook duidelik is, is die feit dat statistieke en vooruitskattings nie die groot rolspelers op die wêreld se verhoog motiveer om die drastiese stappe te neem wat nodig is om ‘n ekologiese ramp af te weer nie. Is daar iets wat die nodige aansporing en motivering kan gee?

In sy jongste artikel skryf Charles Eisenstein dat hy oordeel dat daar een bron van energie in die mens is wat kan (en sal) maak dat ons gemotiveerd en positief sal sorg dat ons verhouding met die aarde herstel – en dit is die LIEFDE. Hy vertel dan van die ywer van die inheemse mense wat in Brasilië in die Amasonewoude woon. Hulle noem hulleself die Cura da Terra (Genesers van die Aarde). Hulle eeue lange liefdesverhouding met die aarde motiveer hulle om die Amasone te beskerm teen verdere vernietiging. Die vernietiging word gedryf deur ‘n gees van verbruik en uitbuiting. Die beskerming en herstel deur ‘n gees van Liefde. Charles glo dat hierdie gees van Liefde ons enigste hoop is. En hy nooi ons elkeen uit om deel te word van hierdie gees van Liefde deur net daar waar ons leef en werk Cura da Terra te wees.  Charles se inspirerende en uitnodigende artikel is hier beskikbaar: https://www.commondreams.org/views/2020/07/12/cure-earth.

Kan ons hulle wat nie die politieke wil het om lief te hê nie se vernietigende eie belang keer en selfs omdraai? JA! Ons kan deur self Cura da Terra te wees:

  • Ons kan elkeen ons gesig draai na die stukkie aarde rondom ons eie huise en ons daartoe verbind om dit met Liefde te versorg.
  • Ons moet hande vat en ons regering met Liefde dwing om die protokolle wat by die VN ooreengekom is na te kom en ontslae te raak van alle fossielbrandstofopwekking van energie.

Die vraag is nie of ons Cura da Terra kan wees nie; die vraag is of genoeg van ons dit gaan wees. Gaan jy? Is jy?

Vrede vir jou en jou omgewing.

 

david p botha
dpbotha2@gmail.com