Moet ons troeteldiere aanhou? Hier is ‘n skakel waar dié vraag bespreek word: https://bit.ly/3kvM3Zj

Ek wil egter met hierdie artikel dié vraag van ‘n ander hoek af benader. Ek skryf spesifiek vir diegene onder ons wat hulleself moeilik kan indink in ‘n wêreld sonder troeteldiere.

Die afgelope twee jaar het twee van ons bure na ons plaaslike tehuis vir senior burgers verhuis. In albei gevalle het hulle ‘n kat gehad wat hulle nie kans gesien het om saam te trek nie. Ek is seker hulle het al die opsies tot hulle beskikking oorweeg. Beide van hulle het besluit om hul jarelange dierevriende te laat uitsit by die veearts. Albei die katte het graag op ons werf rondgekuier. Een het selfs eenvoudig by ons ingetrek toe ons buurvrou vir ‘n maand in die buiteland by haar dogter gaan kuier het en het ook later weer teruggetrek huis toe.

Hulle was albei nog in uitstekende gesondheid toe hulle uitgesit is. Ons het aangebied om die een kat aan te neem, maar die eienaar kon dit nie oor haar hart kry om die kat by ons te los nie. Om die kat te laat uitsit, was vir haar sagter op haar senuwees as om die kat by iemand anders agter te laat. Nou is die twee katte albei vort – nie saam ouetehuis toe nie, nee – dood! Hulle het albei te ‘n groot las geword om verder te versorg. Hulle het deel van die huisraad geword wat as “misbaar” gemerk is. En dit na baie jare se wedersydse vriendskap en troeteling.

Albei ons gewese bure is gelowige mense. Hulle is nie wreed van geaardheid nie. Inteendeel, hulle is besonder vredeliewende omgee-mense. Tog het hulle ten spyte van my pogings om te sorg dat die diere hul lewens behou, besluit om hulle liewer uit te sit.

Hierdie ervarings het my diep laat nadink oor ons verhouding met ons troeteldiere. Ek het as kind ‘n hele paar troeteldiere gehad. En ons as gesin het ook ‘n verskeidenheid van troeteldiere aangehou hoofsaaklik ter wille van ons kinders. Op die oomblik het ons geen troeteldier nie.  Ons werf is egter die kuierplek van mak én wilde diere. Veral vlieënde vriende besoek gereeld ons werf vir langer en korter kuiers. En in die somermaande moet ons ons oë oophou vir die giftige en nie-giftige seilendes onder ons. Net gister het twee geelbekeende sierlik in ons volgereënde dammetjie kom land. Ons kan hulle nie een regtig troetel soos ‘n hond of ‘n kat nie, maar dit is ook asof ons dit nie meer nodig het nie.

Nou wonder ek sommer: Hoekom hou ons troeteldiere aan? En wat bepaal ons verhouding met hulle? Is ons verhouding met ons troeteldiere nie dikwels uiters eensydig nie? Hou ons hulle nie maar net aan ter wille van hul troetelwaarde nie, met ander woorde ter wille van dit wat hulle vir ons beteken? Alles wat God gemaak het, het egter intrinsieke waarde. Dit verkry nie eers waarde wanneer ons die eienaar daarvan word en dit gebruik nie. Dit is waardevol omdat dit ‘n skepping van God is en ‘n verhouding met die Skepper self het. Alle diere – net soos elke mens – het reg op lewe. Dit is asof albei ons bure besluit het dat hul troeteldier se lewe waardeloos geword het toe hulle nie meer plek vir die dier in hul lewe gehad het nie. Hulle het ook geen vertroue in hul troeteldier gehad om nuwe verhoudinge te bou en voort te gaan om sonder hulle gelukkig te wees nie. So asof hul troeteldier net ‘n lewe saam met hulle kon hê en met niemand anders nie. En omdat hulle die dier nie langer by hulle kon of wou hou nie, moes die dier maar liewer dood.

Miskien wissel ons verhouding met troeteldiere tussen twee uiterste pole: volledige vereenselwiging en volledige vervreemding. Volledige vereenselwiging beteken dat my troeteldier ‘n mens word en soos een behandel word. Volledige vervreemding beteken dat ek glad nie meer ‘n aanvoeling het vir die natuurlike band tussen my as mens en ander skepsels nie en dat hul geen intrinsieke waarde besit nie. Hul waarde word dan slegs bepaal deur of ek as mens hulle nog nodig het of nie.

Dalk het ons hier met die hart van die menslike dilemma te doen. Ons verhouding met ons troeteldiere, lyk dit my, is ‘n barometer vir ons verstaan van ons eie plek in God se skepping. ‘n Mens sou dalk ook kon sê dat baie van ons ekologiese uitdagings en krisisse op een of ander manier verband hou met ons verstaan van hierdier plek en rol (space and place: Sallie McFague, The Body of God). Dit is nie die ander diere wat nie meer hulle plek ken nie, dit is ons wat ons plek verloor het. Die pyn wat dit die res van God se skepping aandoen, is enorm. Vra maar net vir veeartse, natuurbewaring en diere-welsysnorganisasies soos die DBV. Dit gee ook ekstra betekenis aan Paulus se woorde in Rom 8:19, naamlik dat die skepping “met gespanne verwagting uitsien daarna dat God bekend sal maak wie God se kinders is” (Rom 8:19, 1983 vertaling).

Kan jou troeteldier(e) in jul verhouding sien dat jy ‘n kind van God is – die Skepper wat ter wille van die Skepping leef?

Vrede vir al die troeteldiere van die wêreld.

 

david p botha
dpbotha2@gmail.com